|

Ma! Pietertjie slaan terug!

’n Paar politieke “kommintators” se skreeuende reaksie op AfriForum se Amerikaanse besoek laat mens byna sprakeloos. Die rektor van Wits, prof. Adam Habib, kry hierdie week se prys met sy vergelyking van Kallie Kriel en Ernst Roets met Adolf Hitler en Idi Amin. Habib herinner my aan Henry Kissinger se stelling dat universiteitsvetes so venynig is omdat daar so min op die spel is! Nietemin, die geskreeu laat my dink aan ’n storietjie uit my kinderjare. Daar het ’n boelie in die buurt gebly, wat veral op die bure se klein Pietertjie gepik het. Boelie het die arme Pietertjie kort-kort getimmer totdat dié se pa seker dik vir die storie geword het en vir Pietertjie ’n paar truuks geleer het. Nie lank daarna nie was dit weer sulke tyd: Boelie jaag vir Pietertjie. Maar dié keer het dinge anders verloop en nie lank daarna nie kom Boelie huil-huil met ’n blou oog by die huis aangehardloop en kla verontreg: “Ma, Ma! Pietertjie slaan terug; Pietertjie slaan terug!

Die linkses hou daarvan om te slaan, maar nie om teruggeslaan te word nie. Hul politieke agterryers skreeu selfs moord en brand as die slagoffers hulself durf verdedig! Hulle wil die boelies wees wat maak en breek soos hulle wil en hul staatsmag en ons belastinggeld gebruik om hulle wil op almal af te dwing. En wee die slagoffer wat kla of dit net durf waag om teen hierdie mishandeling te protesteer of homself daarteen te verweer. Dan is hy alles wat sleg is en gun hy nie die linkses om “nasiebou en versoening” te pleeg nie. Die ergste is die Afrikaanse ANC-simpatiseerders wat soos die gesin van die mishandelde kind die hardhandige pa se kant kies as die polisie kom ondersoek instel; waarskynlik uit vrees dat die pa nóg kwater gaan word vir die inmengery van die gereg en hulle dan ook ’n oorveeg of twee gaan gee!

Landsbelang

Ons moet tog net nooit raak soos die tragiese verhaal van ’n mishandelde vrou wat nie wil gaan kla nie en haar man steeds verdedig of die fout vir sy aanranding by haarself bly soek. Kom ons kyk na die kern van die saak: Afrikaners se grondwetlike menseregte – soos die reg op gelykheid, moedertaalonderrig en kulturele erfenisse – word deur politici en selfs tot in die grondwetlike hof aangetas. Nadat die ANC en EFF soveel selfvertroue gekry het dat hulle die afvat van mense se eiendom wil verwettig, besluit AfriForum om buitelandse meningsvormers en besluitnemers bewus te maak van plaasmoorde en die dreigende onteiening. Dis niks vreemds nie; enige persoon of groep wie se menseregte aangetas word, het nie net die reg nie, maar die plig om dit verder te vat.

Ons het mos die beskikbare binnelandse kanale al hoeveel keer probeer gebruik en is steeds bereid om verder met die owerhede oor die saak te praat, maar geen gemeenskap met selfrespek sal mos net gaan lê as hulle die teiken van onbillike diskriminasie en ’n hatige opswepery deur die Malemas van die wêreld word nie. Dis mos nie kleinighede as ’n streep deur jou grondwetlike menseregte getrek word nie! Ek neem ernstig aanstoot daaraan dat sekere mense nogal kwaad word as ons boere se lewens en wetsgehoorsame burgers se eiendom teen radikale politici probeer verdedig. AfriForum tree daardeur mos in landsbelang ook op, almal weet teen hierdie tyd darem dat die aantasting van eiendomsreg almal in die land benadeel.

Grondwet

Die vraag is: Hoekom het hierdie linkse kommintators ’n probleem met AfriForum se buitelandse veldtog? Hierdie mense is dan as ’n reël klokslag en volspoed op Ou Ryperd as iets of iemand bedreig word of die Grondwet geskend word! Die antwoord is maklik: “Boere-bashing” en selektiewe rassisme! Kom ons wees eerlik – as enige ander groep as wit Afrikaner-boere bedreig sou word, was die linkse wêreld luidrugtig in opstand. Dít mag nie. Maar Afrikaner-boere is ’n “regmatige” teiken wat à la “Kill the Boer” doodgesing mag word, wie se grond afgevat mag word (darem onder streng voorwaardes, nogal!), en wie se moorde vergoeilik word met stellings soos dat “misdaad almal in die land raak”. Dít mag wel. Nie dat hierdie linkses hul eie rassisme sal erken nie. Nee, hul eie antiwit- en antiboer-rassisme word agter flou argumente weggesteek soos dat “AfriForum net publisiteit soek” of dat ons syfers oor plaasaanvalle nie reg is nie. Asof ons net op ’n hopie moet gaan sit en hoop alles kom reg.

Rassisme

Kom ons sê dit reguit: die linkses se probleem is nie ons beleid nie, maar ons identiteit. Hulle haat is nie oor wat ons standpunte is nie, maar oor wie ons is.

Diegene moet maar kennis neem van wat Pierre van den Berghe, die Belgies-Amerikaanse politieke wetenskaplike, oor rassisme gesê het: “If your constituency has the good fortune to contain a demographic majority, racism can easily be disguised as democracy. A racially-defined majority is a far cry from a majority made up of shifting coalitions of individuals on the basis of a commonality of beliefs and interests.

Linkses moet maar ophou skree en raas omdat Pietertjie homself verdedig, en eerder die fout by hulle eie rassisme soek. En liberales moet maar eerder bly wees dat die Grondwet deur AfriForum verdedig word. Dis nou dalk lekker as die Boere doodgewens en -gesing word en hul grond gevat word, maar een van die dae is dit perdalkies júlle beurt – en wie gaan dan help?

Similar Posts