|

Polisie moet statistieke oor plaasaanvalle vrystel

AfriForum dryf al vir ’n tyd lank ’n veldtog dat die departement van polisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) jaarliks statistieke oor plaasaanvalle moet vrystel.

Dit is nie so moeilik is om syfers oor plaasaanvalle vry te stel soos wat die departement van polisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) voorgee nie.

Uiteraard bestaan daar verskeie misdade wat onder die term ‘plaasaanval’ gedek word. Dit sluit moord, roof, verkragting en aanranding in. Die argument word dikwels geopper dat dit nie sin maak om statistieke oor plaasaanvalle bekend te stel nie, omdat die misdade wat plaasaanvalle daarstel, alreeds onder ander misdaadstatistieke getel word: Plaasmoorde word getel onder moord, aanrandings tydens plaasaanvalle word getel onder aanranding ensovoorts.

Dit is egter nie AfriForum se pleidooi dat plaasaanvalle as ’n aparte misdaad gekategoriseer word nie, maar dat alle insidente wat aan die definisie van ’n plaasaanval voldoen, getel moet word en dat ’n gefokusde teenstrategie vir hierdie misdaad opgestel moet word.”

Daar bestaan tans ’n definisie wat in die SAPD se National Rural Safety Strategy (NRSS) van 2011 opgeneem is. Dit lui soos volg:

“Dade van geweld teen mense op plase en hoewes verwys na dade wat gemik is op mense wat daar woon, werk of dit besoek hetsy met die doel om te moor, te verkrag, te roof of liggaamlike leed aan te doen. Daarbenewens sluit dit in alle dade van geweld teen infrastruktuur en eiendom in die landelike gemeenskap wat daarop gemik is om wettige landbou-aktiwiteite as kommersiële belang te ontwrig, hetsy die motiewe ideologie, gronddispute, grondkwessies, wraak, griewe, rassistiese belange of intimidasie insluit.”

Huishoudelike geweld tussen ’n egpaar wat op ’n plaaswoon en gesinsmoord word van die definisie uitgesluit, aangesien dit nie ’n aanval van buite is nie.

Dit is nie so moeilik nie. Alle insidente wat aan die elemente van hierdie definisie voldoen behoort deur die polisie as plaasaanvalle getel te word en daardie statistieke behoort vry gestel te word. Die vrystelling van statistieke is egter net die eerste stap na ’n oplossing. Hierdie statistieke moet dan aangewend word om ’n gefokusde teenstrategie op te stel om plaasmoorde hog te slaan.

In die afwesigheid van daadwerklike optrede deur die departement van polisie en die SAPD sal AfriForum egter voortgaan met sy veldtog om gemeenskappe te mobiliseer om beter na hul eie veiligheid om te sien.

 

Ernst Roets

Ernst is adjunk uitvoerende hoof van AfriForum

Volg Ernst op Twitter by @ernstroets

 

Similar Posts