|

AfriForum en slagoffers versoek Menseregtekommissie-verhoor oor plaasmoorde

AfriForum gaan môre, saam met ʼn slagoffer wie se man onlangs in ʼn plaasaanval vermoor is, ʼn klagtebundel by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) indien en versoek dat die kommissie ʼn formele openbare verhoor oor plaasmoorde inisieer, met spesifieke fokus op die minister van polisie, Nathi Mthethwa, se traak-my-nieagtige houding oor hierdie misdaadverskynsel.

AfriForum gaan spesifiek versoek dat die kommissie die minister dagvaar om voor die kommissie te getuig oor sy versuim om teen hierdie soort misdaad op te tree. Die klagtebundel sal bestaan uit die klagtes van nege persone wat geliefdes aan plaasmoorde afgestaan het.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat plaasaanvalle krisisafmetings aanneem, maar dat die minister en die departement van polisie nie net weier om ʼn teenstrategie vir plaasmoorde uit te werk nie, maar selfs ontken dat dit ʼn krisis is.

AfriForum het vroeër vanjaar die briewe van 100 slagoffers van plaasaanvalle aan minister Mthethwa oorhandig. Nog voordat die briewe die minister bereik het, het sy kantoor ʼn mediaverklaring uitgereik waarin die slagoffers se oproepe om ingryping as ʼn “publisiteitsfoefie” afgemaak is.

Die media word uitgenooi om die oorhandiging van die klagtebundel by te woon. Die besonderhede vir die geleentheid is soos volg:

Datum: 30 Mei 2013
Tyd: 11:00
Plek: SAMRK Hoofkantoor, 33 Hoofdstraat, Braampark Forum 3, Braamfontein
RSVP: Esmarie Prinsloo by 072 332 9824 of esmarie@afriforum.co.za

Similar Posts