|

20 plaasmoorde sedert Nhleko as polisieminister ingehuldig is

AfriForum het ’n dringende versoek aan die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, gerig om te vergader oor die golf van plaasaanvalle en –moorde wat die land die afgelope paar maande teister. Dít volg nadat Nico en Marsha Lens gisteraand op hulle plaas in Paulpietersburg in KwaZulu-Natal doodgeskiet is. Dié moorde bring die aantal plaasmoorde sedert Nhleko as minister ingehuldig is op 20 te staan.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het in die skrywe aan die minister verduidelik dat AfriForum meer as 100 000 lede regoor die land het, waarvan baie ook deur geweld oor die algemeen, maar plaasmoorde in die besonder geraak word. Roets het ook verduidelik dat AfriForum sy deel doen om plaasmoorde te bekamp. Die organisasie beskik oor gemeenskapsveiligheidstrukture regoor Suid-Afrika, wat gereeld patrollies ry en hulle eie gemeenskappe beveilig sover moontlik.

“Ons frustrasie is egter dat AfriForum hierdie probleem van grondvlak af beveg, terwyl daar op nasionale vlak nie die nodige politieke wil bestaan om daadwerklik teen plaasmoorde op te tree nie,” het Roets gesê.

AfriForum beplan om ’n aantal praktiese stappe aan die minister voor te lê wat deur die ministerie van polisie toegepas kan word om ʼn wesenlike bydra te maak om plaasmoorde te verminder.

AfriForum het die minister sewe dae gegee om op die skrywe te reageer.

Similar Posts