|

AfriForum stel verskerpte aksieplan teen plaasmoorde bekend

AfriForum het in Centurion ’n verskerpte veldtog teen plaasmoorde bekendgestel. Dit volg ná die vlaag plaasaanvalle wat die land sedert die begin van die jaar geteister het. Sedert die begin van 2014 is 24 insidente op plase en kleinhoewes aan AfriForum gerapporteer, waartydens minstens drie boere vermoor is.

Die aksieplan sluit ’n verskerpte bewusmakings- en protesveldtog in, waarmee verdere druk op die minister van polisie, Nathi Mthethwa geplaas sal word om plaasmoorde te prioritiseer, sowel as ’n uitgebreide plaaslike selfdoenstrategie.

Die burgerregte-organisasie het ook vandag aangekondig dat hy ’n taakspan sal saamstel om ʼn omvattende studie oor plaasmoorde te doen. Vir hierdie projek sal ʼn verskeidenheid gevallestudies regoor die land onderneem word. Onderhoude sal met slagoffers, naasbestaandes, plaaswerkers en veroordeelde plaasmoordenaars gevoer word om vrae om die verskynsel te verklaar.

Die plaaslike selfdoenstrategie sal die volgende projekte regoor die land insluit:

  • Patrolliestelsels/Sigbare polisiëring
  • Radionetwerke
  • Insidentbeheerstelsels
  • Voltyds bemande beheerkamers
  • Privaat noodhulp en dienste

AfriForum het verder aangekondig dat die organisasie reeds besig is om ’n projek vir die ondersteuning van slagoffers van plaasmoorde saam te stel.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof, het gesê dat AfriForum met hierdie strategie beoog om die regering te dwing om teen plaasmoorde standpunt in te neem.

“Daar bestaan geen rasionele rede waarom plaasmoorde nie deur die regering geprioritiseer word nie, behalwe dat die regering hom doodeenvoudig nie aan boere se veiligheid steur nie.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid van AfriForum, het bygevoeg dat die organisasie besef dat voortgesette druk op die regering nie die enigste oplossing kan wees nie.

“As die polisie nie stappe doen om gemeenskappe te beveilig nie sal ons hierdie stappe self doen. Ons sal gemeenskappe help om hulle na hulle eie veiligheid om te sien.”

AfriForum het ook ’n platform op sy webblad geskep waar lede van die publiek plaasaanvalle kan aanmeld, sodat dit onder AfriForum en die departement van polisie se aandag gebring kan word.

Similar Posts