|

SA boere weeg meer as wat hulle tel

Ons land se boere het dit nie maklik nie. ’n Sameloop van landbou-, omgewings-, politieke en ekonomiese faktore bemoeilik hulle taak om die land se mense te voed en daaruit ’n bestaan te maak. Feitlik almal kla oor hulle – en dit met monde vol kos. Die feit dat hulle van die min suksesvolle kommersiële boergroepe op ons vasteland is en vir ons voedselsekerheid sorg, word te maklik as vanselfsprekend aanvaar.

Boere is die afgelope dekade met wette en voorskrifte oor alles en nog wat gepeper. Hulle word deur die meeste woordvoerders van die ANC-alliansie beskryf met uitgediende stereotipes van uitbuiters en die mishandeling van plaaswerkers. Uitnodigings van boerekant om besonderhede hiervan bekend te maak val egter op dowe ore. Die feit dat van ons voorste boere se arbeidspraktyke en werknemervoordele beter as dié van genoteerde maatskappye is, word deur hierdie politieke foutsoekers geïgnoreer. Terwyl geloofwaardige landbouleiers waarsku dat boerderytoestande soms onhoudbaar word en dat dit die bedryf se voortbestaan raak, word dit nóg moeiliker vir hulle gemaak. Boere se waarskuwings dat baie van hulle die land sal moet verlaat en in die buiteland ’n uitweg sal moet soek, word deur regeringsleiers smalend weggelag. Selfs die feit dat ’n boer se kans om vermoor te word 700 keer groter is as in die res van die wêreld, spoor nie die regering tot aksie aan nie. Inteendeel – politieke leiers maak gereeld uitsprake wat die geweldsklimaat in die land selfs nog ’n paar grade opstoot. Daarmee saam maak regeringsleiers baie dubbelsinnige uitsprake oor boere se eiendomsreg, wat die landbousektor en uiteindelik ook ons as verbruikers ernstig benadeel. Die boere is ’n maklike politieke slaansak vir enige ANC-politikus wat sy naam in die koerant wil hê.

Kantkies

Die probleem is dat dit selfs in liberale mediakringe nie polities korrek is om die boere se kant van die saak te stel of selfs deernis met hulle te hê nie. Die vrees bestaan skynbaar dat om die boere “se kant” te kies tot rassepolarisasie kan lei wat dalk ’n paar stemme na die ANC toe kan laat swaai. Asof haatliedjies en plaasmoorde nie polariserend is nie! Dis mos ook rassisties om te dink dat die deursnee-swartmens deur haat gedryf word vir wie om te stem. As dit die stilswyende sienings is, is dit nie net die ANC wat sy morele kompas kwyt is nie, maar die betrokke joernaliste ook.

Dit sal goed wees as almal kan onthou dat as een mens se reg vertrap word, almal se reg geskend is. Vandag is dit die boere, môre miskien die media, die regbank, die Grondwet of die ekonomiese stelsel. Wie vandag paai, sal later die gevolge maai. Die volgende verkiesing is belangrik ja, maar die volgende geslag se toekoms is selfs nog belangriker. Daarom – kom op vir die reg van dié wat ten gronde gaan. Al tel hulle nie so baie stemme nie, weeg hulle swaarder vir die toekoms.

 

Similar Posts