|

AfriForum-veiligheidsnetwerke op plaasmoordenaars se spoor

AfriForum se veiligheidstrukture in Kathu en Kuruman in die Noord-Kaap en Vryburg in Noordwes is saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) steeds op die spoor van drie vermeende plaasaanvallers, nadat ʼn 64-jarige boer, Christo Kruger op sy plaas, Byron, doodgeskiet is. Kruger se vrou, Vera, is ongedeerd. Dit blyk of niks gesteel is nie.

“Christo het gisteraand onraad vermoed, nadat ʼn werker hom gebel en ingelig het dat daar aan die hekke van die plaashuis geruk word. Hy het gaan ondersoek instel en is in die bors geskiet toe hy uit die huis gestap het,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.
Die AfriForum-veiligheidstrukture het spoedig gereageer en alle toegangsroetes tussen die dorpe en plase beman. Die SAPD was vinnig op toneel en soek sedert die aanval onverpoosd na die verdagtes, wat op vlug geslaan het.

“Ons en die SAPD het goeie inligting bekom met name van verdagtes en ons is op hulle spoor. Die polisie is uiters doeltreffend en ons sal hulle bystaan waar ook al ons hulp ingeroep word,” het Cameron gesê.

Similar Posts