|

3 moorde, 3 grondgrype, 2 aanvalle in KZN. Keer, sê AfriForum

AfriForum het vandag ʼn beroep op boere in KwaZulu-Natal gedoen om te begin organiseer en mobiliseer om reg te wees vir grondgrype. Hierdie beroep volg nadat AfriForum gedurende die afgelope 10 dae in kennis gestel is van 3 plase wat deur indringers beset is, 2 plaasaanvalle en die driedubbele moord op lede van die Schutte-familie in Richmond.

“Dit is duidelik dat die regering nie die belange van boere op die hart dra nie. Boere sal na hulle eie lewens en besittings moet begin omsien. Dit is gebiedend noodsaaklik dat boere by veiligheidsnetwerke aansluit sodat hulle na hulleself en na mekaar kan omsien”, het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Cameron het verder verduidelik dat boere moet seker maak hulle is betrokke by georganiseerdelandbou-instansies sodat hulle so ook bystand kan kry. AfriForum is beskikbaar om boere by te staan wat veiligheidsnetwerke betref.

Die volgende plekke is genoem waar grondgrype en aanvalle plaasvind:

  1. Richmond (Plaasmoorde)
  2. Elandslaagte (Plaasaanval)
  3. Camperdown (Grondgryp)
  4. Karkloof (2 Grondgrype)
  5. Howick (Plaasaanval)
  6. Margate (Grondgryp)

“Dit is duidelik dat boere in die provinsie van hulle grond af geïntimideer word. Boere moet onmiddellik betredingsklagtes by die Suid-Afrikaanse Polisie teen indringers op hul grond lê. As daar ʼn tak is, sal AfriForum optree om te help beskerm,” het Chris Fourie, AfriForum se gemeenskapskoördineerder in KwaZulu-Natal, gesê.

Boere word uitgenooi om met AfriForum te skakel indien hulle bystand met plaasbeveiliging verlang.

Similar Posts