|

Beskuldigde in Barkly-Oos-plaasmoord laat vaar borgaansoek

AfriForum het vandag die tweede verskyning van die beskuldigde in die moord op ʼn bejaarde egpaar van Barkly-Oos bygewoon. Thulani Mkhentane (22), ‘n burger van Lesotho, het sy borgaansoek teruggetrek en sal in aanhouding bly totdat hy weer op 28 November in die hof verskyn.

“Die ondersoek gaan voort. Ons moet die polisie in Barkly-Oos komplimenteer vir hulle goeie diens en spoedige arrestasie van Mkhentane,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapveiligheid gesê.

AfriForum is werksaam in Barkly-Oos om gebiede te identifiseer waar daar nog nie veiligheidstrukture is nie en gemeenskappe by te staan om dié strukture te vestig. Ander diensleweringsbehoeftes in die gemeenskap sal ook bepaal word. AfriForum beplan om Elliot ook te besoek.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het bygevoeg dat die organisasie in November vanjaar ’n voorlegging oor die omvang en brutaliteit van plaasmoorde in Suid-Afrika by die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Geneve, Switzerland sal voorlê. Die publiek word aangemoedig om die petisie, wat hierdie voorlegging sal vergesel, te ondersteun deur www.hoelanknog.co.za te besoek.

“Hoe lank moet ons nog vir die regering se ingryping vra? Die minister van polisie se gebrek aan optrede grens aan aandadigheid.”

Similar Posts