|

AfriForum skop stof op ter bewusmaking van Plaasmoorde.

AfriForum het aan die begin van Oktober aan die Quads4Quads-wedloop deelgeneem ter bewusmaking van plaasmoorde. Só het die wedloop daar uitgesien:

Dag 1:

AfriForum se vier motorfietsryers het met groot verwagtinge by Cane Cutters Lodge net buite Ballito weggespring en het op dag een reeds ’n totaal van 250 km afgelê om stof op te skop vir plaasmoorde.

Dié vier manne het vier verskillende ysterponies opgesaal: Edrique op sy GS1200LC Adventure; Ruan op sy KTM 640 Adventure; Regardt op sy Suzuki LTZ 400; en Leomar met die KTM 990 Adventure.

Sommige deelnemers het maar bekommerd gelyk oor die GS1200 en KTM 990, met herhaaldelike waarskuwings oor die tegniese gedeeltes waar die stofdonkies té groot mag wees. Soms was hulle baie naby aan reg! Die Adventure-fietse het op ’n paar plekke maar stadig oor die klippe geloop.

Vanaf Cane Cutters het ons die 280 km-stofpad na Wenen aangepak, met ’n stop oor middagete nadat ons sowat 120 km afgelê het. Ons het op dié deel deur baie natuurskoon gery, met suikerrietplantasies, bosbouplantasies, berge en riviere.

Ons het die aand in Wenen gekamp en ’n verdiende nagrus gekry.

Dag 2:

Op dag twee het ons weer die stofpad aangepak Newcastle toe. Die roete was ongeveer 250 km lank en het weer baie grasvelde, plaaspaaie, klippe en selfs ’n bergpas en treinspore ingesluit.

Nadat ons vir middagete in Wasbank gestop het, het een van ons ondersteuningspersoneel die stuurwiel op een van Farmer’s Friends se vierwiele geneem. (Foto van Anita)

Ons oornagstop was by Majuba Lodge in Newcastle, waar ons lekker kon ontspan.

Dag 3:

Op die oggend van die derde dag het ons almal by die Majuba Lodge se grasperk weggespring. Ons was ook trots geklee in ons AfriForum/Farmers Friends-hemde, wat ’n goeie gevoel van spangees gekweek het.

Ons roete het ons op dié dag ongeveer 200 km in Standerton se rigting geneem. Ons het baie uitdagende klipgruispaaie gery waar ons langs die Majuba-pas getoer het. Daar was ook ’n paar interessante tonnels waardeur ons moes ry, asook lekker tegniese roetes by Tearspass en Taxihill.

Dag 4:

DIE LAASTE DAG! Ons vertrek vanaf Standerton en pak meestal treinspoor- en grasveldroetes saam tot by Carnival City aan. Almal was teen dié tyd baie moeg en die Springbokke se neerlaag teen Nieu-Seeland het nie juis gehelp nie. Ons het baie uitgesien om die toer tot op sy einde te ry en het ter afsluiting plakkers uitgedeel vir die bewusmaking van plaasmoorde in Suid-Afrika.

Kyk gerus die video hier.

Similar Posts