|

Nog ’n plaasmoord: Mthethwa moet antwoord

AfriForum het ’n beroep op die minister van polisie, Nathi Mthethwa, gedoen om aan die publiek te verduidelik waarom hy dit nie nodig ag om by die plaasmoordkrisis in te gryp nie. Die volg nadat nog ’n boer gister op ’n plaas naby Sabie in Mpumalanga vermoor is.

Paul Madison (63) en sy vrou Gwyneth Madison (58) is gisteroggend op hul plaas Kruisfontein aangeval. Gwyneth is in die huis vasgebind, waarna Paul in die tuin doodgeskiet is. Die tuinier, wie se naam nie bekend is nie, is ook vasgebind en in ’n puttoilet gegooi.

AfriForum het ’n beroep op die publiek gedoen om hul pleidooi vir die prioritisering van plaasmoorde direk onder Mthethwa se aandag te bring deur die webblad www.hoelanknog.co.za te besoek en die elektroniese petisie te ondersteun. Elke keer wanneer die petisie ingevul word, stuur die webblad outomaties ’n e-pos aan Mthethwa se kantoor. Meer as 10 000 lede van die publiek het reeds op hierdie wyse e-posse aan Mthethwa gestuur.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum het bygevoeg dat die organisasie in November vanjaar ’n afvaardiging na die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede stuur, waartydens ’n voorlegging oor plaasmoorde gelewer sal word.

“Mthethwa se gebrek aan optrede grens aan aandadigheid.”

Similar Posts