|

Plaasaanvalle styg met 34%

Hoewel daar nog drie dae voor die einde van Juniemaand oor is, was daar – vergeleke met die eerste ses maande van 2017 – reeds ’n 34%-styging in plaasaanvalle gedurende die eerste ses maande van 2018. Volgens AfriForum se rekords kon 33 plaasmoorde sedert die begin van die jaar geverifieer word. AfriForum het in besonder sy kommer uitgespreek oor die wrede moorde van Gabriel (78) en Marian Bruwer (67) en opnuut ’n beroep op die regering en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in besonder gedoen om plaasmoorde te prioritiseer.

Die Bruwers se liggame is gister in hul plaashuis by Vanstadensrus gevind. Hulle was aan stoele vasgebind. ’n Kussing is as knaldemper gebruik alvorens beide Gabriel en Marian in die kop geskiet is. Hulle was lede van AfriForum.

Gedurende die eerste ses maande van 2017 het 157 plaasaanvalle plaasgevind en is 40 plaasmoorde gepleeg. Sedert die begin van Januarie 2018 het 210 plaasaanvalle plaasgevind en is 33 plaasmoorde gepleeg.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum en die outeur van die boek Kill the Boer, wat hierdie week bekend gestel word, sê dat plaasmoorde teen ’n buitengewone frekwensie plaasvind en dat dit buitengewoon wreed is. “Die bewering wat wyd versprei word, dat plaasmoorde tans op sy laagste ooit is, is gewoon vals. Om die waarheid te sê, ons geverifieerde data dui daarop dat plaasmoorde sedert 2011 toeneem. Hoewel daar in die eerste ses maande van 2018 minder plaasmoorde as in die eerste ses maande van 2017 gepleeg is, is ons erg bekommerd oor die skerp styging in plaasaanvalle,” sê Roets.

Roets voeg by dat AfriForum sy veldtog teen plaasmoorde in die komende maande sal verskerp. Intussen doen AfriForum ’n beroep op die boeregemeenskap om meer paraat te wees ten opsigte van hul eie veiligheid en om by gemeenskapsveiligheidsnetwerke in te skakel.

Similar Posts