|

Verskeie steun onderwyser se staptog teen plaasmoorde

Onverwagse steun en bemoediging het gister op Vryheidsdag vir Duncan Nyawo (37) ingestroom wat in Nelspruit met ’n staptog teen plaasmoorde begin het.
Dié studente-onderwyser van die Ngodini Secondary School in Kabokweni, Mpumalanga, hoop om Donderdag by die Uniegebou in Pretoria aan te kom.
Hy stap teen plaasaanvalle en moorde op boere en polisielede. Nyawo het sy broer en lid van die blitspatrollie in die Richardsbaai-omgewing verloor toe hy in 2012 geskiet is.
Hy het ook op ’n plaas grootgeword en weet wat die impak van ’n moord op ’n gemeenskap is.

Susan en Bertie Briers, albei lede van AfriForum, het op hul motorfietse geklim en Nyawo van Nelspruit tot by Machadodorp ondersteun. “Elke bietjie wat ons kan doen in die stryd teen plaasaanvalle en –moorde moet verwelkom word. Ons staan bankvas agter Duncan.”
Volgens Briers ondersteun hy veldtogte teen plaasaanvalle omdat hyself op ’n plaas grootgeword het en verstaan waardeur dié gemeenskappe gaan. “Elke lid van AfriForum moet betrokke raak.”

Nog drie ondersteuners wat die 350 km saam met Nyawo aflê, is Alex Leitch, ’n landskapargitek van KwaZulu-Natal, Ian Venter van Nelspruit en Jaco Klopper van Mpumalanga animal crime watch.

Leitch het gesê: “Ek het ook op ’n plaas grootgeword en ons het ons grond weens grondeise verloor. Ek ondersteun Duncan en glo die leierskap in die land moet wakker word en inwoners begin opvoed oor wat die belangrike rol van boere in die land is.”

Venter het gesê mense sal nou moet opstaan en iets begin doen. “Elke plaasmoord gaan nie net oor ’n boer wat vermoor word nie. Dit raak ook baie ander mense in die gemeenskap en hulle werkgeleenthede.”
Jannie Liebenberg, ook van Nelspruit, het sy steun aan Nyawo toegesê deur met logistieke reëlings soos kos te help.

Similar Posts