|

AfriForum wil plaasmoordveldtog verskerp; nooi slagoffers om betrokke te raak

AfriForum het vandag ʼn beroep gedoen op Suid-Afrikaners wat deur plaasaanvalle geraak is om betrokke te raak by die stryd om die minister van polisie, Nathi Mthethwa, te oortuig om plaasmoorde tot ʼn prioriteitsmisdaad te verklaar. Vir hierdie doel is slagoffers aangemoedig om hul stories na stopdiemoorde@afriforum.co.za te stuur, sodat hul by ʼn verskerpte veldtog teen plaasmoorde betrek kan word. Dié verskerpte veldtog sal veral op publieke betrokkenheid geskoei wees.

“Hierdie oproep is gemaak in die lig van die minister se traak-my-nieagtige houding teenoor plaasmoorde en sy weiering om self te erken dat plaasmoorde ʼn krisis is, wat dan nog van om op gepaste wyse daarop te reageer,” het Ernst Roets, AfriForum se adjunk uitvoerende hoof gesê.

Roets het verduidelik dat die minister in die afgelope drie maande aktiewe stappe gedoen het om AfriForum se veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde te diskrediteer.

  • ʼn Protesoptog teen plaasmoorde wat op 1 Desember 2012 deur AfriForum gehou is, is deur die minister tot ʼn onwettige optog verklaar, ten spyte van ʼn verklarende hofbevel wat die teendeel beslis het.
  • In Januarie vanjaar het ʼn honderd Suid-Afrikaners wat deur plaasmoorde geraak is, briewe aan die minister geskryf en versoek dat plaasmoorde prioritiseer word, waarop die minister gereageer het deur die slagoffers se briewe as ʼn “publisiteitsfoefie” af te maak.
  • Kort daarna het die minister tydens ʼn sake-ontbyt, wat deur die New Age-dagblad georganiseer is, ʼn volgende aanval op AfriForum se veldtog geloods.

Die minister het ook onlangs, by monde van sy woordvoerder, gesê dat hy nie bereid is om plaasmoorde te prioritiseer nie, aangesien die meerderheid boere (en by implikasie ook die slagoffers) wit is en prioritisering van plaasmoorde dus op “rassifisering” van misdaad sou neerkom.

“Ons het nou een van twee keuses: Ons kan terugstaan en die aftog blaas, of ons kan hierdie veldtog verskerp,” het Roets gesê. “Daarom doen ons ʼn beroep op die publiek, en in besonder dié wat deur plaasaanvalle geraak is, om hul inligting vir ons te stuur, sodat ons hulle by ʼn volgende fase van hierdie veldtog kan betrek.”

Meer besonderhede oor die verskerpte veldtog sal binnekort aangekondig word.

Similar Posts