|

ANC-verklaring is nie genoeg om plaasaanvalle te stuit nie

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die feit verwelkom dat die ANC vandag plaasmoorde in ’n mediaverklaring veroordeel het, maar bygevoeg dat verklarings alleen nie genoeg is om die krisis in die praktyk hok te slaan nie. Die organisasie het opnuut ’n beroep op die regering gedoen om plaasmoorde te prioritiseer deur ’n gefokusde teenstrategie op skrif te stel en uit te voer.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het egter die aanval wat die ANC in dieselfde verklaring op AfriForum geloods het verwerp as oningeligte kritiek. “Die ANC beweer dat AfriForum blind is vir die situasie van plaaswerkers, terwyl AfriForum hom al telkemale daaroor uitgespreek het en ek selfs ’n hoofstuk in my boek Kill the Boer aan die verhouding tussen boere en plaaswerkers gewy het.”

Roets het bygevoeg dat betroubare data oor uitsettings van plaaswerkers yl gesaai is en het ’n beroep op die ANC gedoen om die data waarop sy kommer oor die mishandeling van werkers geskoei is te publiseer, sodat dit met die nodige erns hanteer kan word. “Die beskikbare inligting maak dit egter duidelik dat die mishandeling van plaaswerkers beperk is tot geïsoleerde gevalle, terwyl plaasaanvalle en -moorde duidelik op ’n nasionale tendens neerkom. Albei moet veroordeel word, maar om voor te gee dat die omvang van die twee krisisse ewe groot is, is onverantwoordelik.”

Similar Posts