|

Afriforum: Nasionale studie oor plaasmoorde

AfriForum is besig met ’n nasionale navorsingsprojek wat fokus op plaasaanvalle. Die onderwerp word breedvoerig ondersoek en sluit verskeie invalshoeke in om die omvattende aard en gevolge van plaasaanvalle te kan aanspreek. Dit is so ’n komplekse fenomeen dat dit moeilik is om slegs op een aspek daarvan te fokus, juis omdat daar soveel veranderlikes is wat in gedagte gehou moet word.


Die volgende onderwerpe word by die studie ingesluit:

  • Die doeltreffendheid van bepaalde veiligheidsmaatreëls;
  • Die samestelling van verskillende statistieke wat met plaasaanvalle verband hou;
  • Die koste-implikasies van ’n plaasmoord/plaasaanval;
  • Die sielkundige impak van ’n plaasmoord/plaasaanval op slagoffers;
  • Die impak van ’n plaasaanval op plaaswerkers;
  • Die doeltreffendheid van polisie-ondersoeke na plaasmoorde; en
  • Die impak wat haatspraak en politieke opstokery moontlik op plaasmoorde/plaasaanvalle het.

Direkte slagoffers van plaasaanvalle en Suid-Afrikaners wie se geliefdes op plase vermoor is, word genader vir die studie. ’n Omvattende vraelys word dan saam met die slagoffers ingevul om seker te maak dat die data wat ingevorder word korrek, geldig en betroubaar ingesluit kan word in die bevindings van die studie.

Verder gaan daar onderhoude gevoer word met die werkers wat teenwoordig was tydens aanvalle en/of self slagoffers was. Die impak wat ʼn plaasaanval op werkers het, wie se werknemer vermoor is, word ook ondersoek. Die trauma van ’n aanval is nie beperk tot slegs die direkte families nie, maar kring uit na die werkers wie se veiligheid op die eiendom bedreig word.

AfriForum is ook reeds besig met die proses om toegang te verkry tot veroordeelde plaasmoordenaars en aanvallers wat tans straf uitdien vir misdade wat hulle tydens plaasaanvalle gepleeg het. Hierdeur hoop ons om meer duidelikheid te kry oor die motiewe van die aanvalle asook hoe die spesifieke plase as teikens gekies word.
Die studie sluit onderhoude met kenners en belanghebbendes in, onder meer landbou-unies, buurtwagte en privaat sekuriteitsmaatskappye. Verskeie relevante regeringsdepartemente gaan ook genader word om insae te lewer.

Ons doel is om ’n omvattende ondersoekende studie oor plaasmoorde/plaasaanvalle te doen, sodat die bevindings daarvan deur regeringsdepartemente, rolspelers, niewinsgewende-organisasies, studente en alle belanghebbendes gebruik kan word om strukture in plek te kry om plaasaanvalslagoffers te ondersteun en eienaars van plase en kleinhoewes te beveilig.

AfriForum wil Suid-Afrikaners wat oor inligting rakende plaasaanvalle beskik, en/of direkte slagoffers was, aanmoedig om deel te wees van die studie. Kontak Lorraine Claasen by stopdiemoorde@afriforum.co.za of stopthemurders@afriforum.co.za

Similar Posts