|

Mthethwa misken plaasmoordekrisis, sê AfriForum

AfriForum het die minister van polisie, Nathi Mthethwa, daarvan beskuldig dat hy die krisisafmetings wat plaasmoorde in die land aanneem, misken en ongevoelig teenoor die slagoffers daarvan staan. Dié reaksie volg nadat Mthethwa vanoggend tydens ʼn ontbytsessie van The New Age-koerant kritiek oor AfriForum se veldtog teen plaasmoorde uitgespreek het en aangedui het dat plase nie spesifieke aandag van die polisie vereis nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, misken Mthethwa doelbewus die feit dat ‘n Suid-Afrikaanse boer se kans om vermoor te word meer as dubbeld so hoog is as dié van ‘n Suid-Afrikaanse polisieman en meer as drie keer hoër is as enige ander landsburger. “Landbou is tans die gevaarlikste beroep in die land en as dit nie plaasmoorde as prioriteitsmisdaad laat kwalifiseer nie, dan beteken dit dat die owerheid min waarde aan die lewens van boere, hulle gesinne en plaaswerkers heg,” het Kriel gesê.

Die minister hou hom volgens Kriel doelbewus blind vir die feit dat plaasaanvalle in baie gevalle met marteling en brutale geweld gepaard gaan. “Die polisie probeer hierdie geweld en disproporsionele hoë voorkoms van plaasaanvalle verdoesel deur sedert 2007 te weier om statistiek rakende plaasaanvalle bekend te maak,” het Kriel bygevoeg.

Volgens Kriel is dit skandalig dat die minister The New Age-koerant se ontbytsessies, wat die belastingbetalers miljoene rande uit die sak jaag, as platform misbruik om sy ongevoeligheid teenoor die landbougemeenskap, wat ook belastingbetalers is, te toon.

Similar Posts