|

Plaasmoordenaar ontsnap; SAPD se nalatigheid dui op betrokkenheid – AfriForum

AfriForum het ʼn waarskuwing aan die landelike gemeenskap van Belfast gerig nadat ʼn vermeende plaasmoordenaar, Petros Mamaru (24), ook bekend as Piet, die afgelope naweek uit die Belfast-polisie se aanhoudingselle ontsnap het. Piet het op Saterdag, 4 Oktober tussen 17:00 en 17:40 saam met twee ander misdadigers uit die selle ontsnap nadat hulle ʼn gat in die dak gesny het.

Piet het op Saterdag, 30 Augustus 2014 op die plaas Elandskloof tussen Dullstroom en Belfast ʼn arbeider met ʼn bottel geslaan, gesteek en toe glo met ʼn klip doodgeslaan. Die polisie het eers sowat vier uur na die moord opgedaag. Op Sondag, 31 Augustus is Piet weer buite die plaas deur werkers opgemerk en die polisie is onmiddellik in kennis gestel. Die beampte aan diens het glo gesê dat hy te bang is om te reageer en dat hy dus eers op Maandag, 1 September na die verdagte sal soek. Dit het sowat 14 dae geduur om ʼn arrestasie uit te voer.

“Hierdie rompslomp dui op die onbevoegdheid en selfs moontlike betrokkenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se lede by misdaad. Iemand kan beslis nie ontsnap deur ʼn gat in ʼn dak te sny sonder om die nodige gereedskap te bekom nie,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid gesê.

Mamaru word volgens Cameron ook gesoek vir ʼn moord wat hy na bewering in 2012 gepleeg het.

“Gemeenskappe moet hulself beveilig omdat die staat nie bevoeg is of die wil het om doeltreffende beskerming aan gemeenskappe te bied nie,” het Cameron afgesluit.

Similar Posts