|

“Gaan sê vir die slagoffers dit was ʼn publisiteitsfoefie,” antwoord AfriForum op Mthethwa se verklaring

AfriForum het vandag die minister van polisie, Nathi Mthethwa gevra om vir die slagoffers van plaasaanvalle self te gaan sê dat hulle pleidooi vir sterker polisie-optrede teenoor plaasmoorde maar net ʼn “publisiteitsfoefie” is. Dit volg nadat die minister vandag, by monde van sy woordvoerder, Zweli Mnisi, ʼn mediaverklaring uitgereik het, waarin hy die oorhandiging van 100 slagoffers van plaasmoorde se briewe as sodanig beskryf.

“Ons is geskok en ontnugter oor die minister se reaksie. Die minister het nog nie eers tyd gehad om die briewe te lees nie, toe reik hy al ʼn mediaverklaring uit,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gesê. Roets het ook sy kommer uitgespreek dat die minister, selfs in sy nuutste mediaverklaring, steeds nie bereid is om te erken dat daar ʼn plaasmoordkrisis in Suid-Afrika is nie.

“Die minister praat soos ʼn ANC-aktivis en nie soos ʼn minister wat die veiligheid van al sy land se burgers op die hart het nie,” het Roets gesê. Roets het bygevoeg dat die minister AfriForum van politieke retoriek beskuldig en nie bereid is om op die feite te reageer nie. “AfriForum het nooit te kenne gegee dat plaasmoorde bloot ʼn rassekwessie is nie. Dis misdaad teen landsburgers, swart én wit, en moet so deur die minister hanteer word.”

“Die feite is eenvoudig. Boere word in disproporsionele mate vermoor en daardie moorde gaan dikwels met onmenslike brutaliteit gepaard. Plaasmoorde is ʼn unieke misdaad en boere leef in unieke omstandighede. Dit op sigself regverdig ʼn unieke teenstrategie, net soos wat gedoen is met koperkabeldiefstal, renosterstropery, bendegeweld en geweld teen vroue en kinders. Ons wag in spanning.”

Similar Posts