| |

AfriForum 2021-plan vir die bekamping van plaasmoorde

Suid-Afrikaanse boere word daagliks deur plaasaanvalle bedreig. Hoewel die nuutste syfers, soos elke jaar, skokkend is, weier die regering steeds om plaasaanvalle en -moorde as prioriteitsmisdade te hanteer. AfriForum dryf in 2021 ’n verskerpte veldtog teen plaasmoorde wat bewusmaking-, veiligheid-, voorkoming- en ondersteuningsprojekte op plaaslike, nasionale en internasionale vlak insluit.

AfriForum sal voortgaan om aandag op die kwessie van plaasmoorde te fokus, beide nasionaal en internasionaal. Die organisasie sal ook sy posisie as nieregeringsorganisasie met spesiale raadgewende status by die VN gebruik, om by verskeie van dié forums geskrewe en selfs mondelinge voorleggings te maak oor die wreedaardige werklikheid van plaasaanvalle in Suid-Afrika en hoe die Suid-Afrikaanse regering aan die krisis aandadig is.

Aangesien ons nie op die regering kan staatmaak om plase te beveilig nie, het AfriForum die volgende drie strategieë in plek gesit om plaasgemeenskappe se weerbaarheid teen plaasaanvalle te versterk:

  1. BEVEILIGING VAN PLASE

AfriForum se plaaslike veiligheidstrukture poog om gemeenskappe te bemagtig en almal wat op plase woon te beveilig sodat hierdie gemeenskappe vry, veilig en voorspoedig kan leef.

AfriForum in samewerking met Saai bied die volgende om plase te help beveilig:

Die veiligheidsassessering van plaaswonings

AfriForum doen ’n assessering van die opstal en ander bestaande fisiese proaktiewe beskermingsmaatreëls met behulp van ons plaasassesseringsinstrument, ter voorkoming van insidente waar lewens en eiendom van mense op plase in gedrang mag kom. Die assesserings bemagtig ons om die nodige advies aan plaasbewoners te gee om hul plase optimaal te beveilig.

Opleiding in basiese noodhulp

AfriForum verskaf praktiese opleiding in noodsaaklike basiese noodhulp, wat toneelassessering, algemene veiligheid, kardiopulmonêre resussitasie (KPR), bloedingbeheer en spalk van ledemate insluit.

Wapenopleiding

Plaasinwoners kry opleiding in basiese wapenbehendigheid van hulle persoonlike vuurwapens en die vereistes van veilige vuurwapengebruik, waarna hulle praktiese afvuurtegnieke inoefen. Die beginsels van noodweer word ook deur regskundiges aan inwoners verduidelik, met die klem op die beginsels van minimum geweld en noodweer.

Die verskaffing van ’n analoog-radiostelsel, asook radio-opleiding

AfriForum verskaf tweerigtingradio’s as noodkommunikasiemiddel aan inwoners van plase. Ons gee ook opleiding in die gebruik van die radio en die etiek van spraakprosedures gedurende radiogebruik.

AfriForum skep ook die geleentheid vir ons lede en die breër publiek om deel te vorm van hierdie veldtog en te help om ons plase te beveilig deur ’n skenking te maak by Beveilig ’n plaas / Safeguard a farm by AfriForum NPC | GivenGain.

  1. SLAGOFFERONDERSTEUNING

AfriForum se Trauma-eenheid bied fisiese en emosionele bystand op plaasmoordtonele. Dit sluit berading aan oorlewende slagoffers en ’n deeglike veiligheidsassessering van die plaas in.

Die eenheid staan plaasaanvalslagoffers by deur die skoonmaak van die toneel te koördineer; hulp te verleen met die aankoop van onmiddellike huishoudelike benodigdhede; bystand te bied met die vervanging van beddegoed indien dit bebloed is as gevolg van die aanval of moord; en die reël van akkommodasie vir die slagoffers by familielede of bure indien nodig.

Die Trauma-eenheid speel ook ’n belangrike rol deur slagoffers te vergesel tydens uitkenningsparades, fisieke en emosionele bystand tydens hofverrigtinge te bied en toe te sien dat die polisie billik optree teenoor slagoffers en dat hul regte ten alle tye beskerm word.

  1. GEREGTIGHEID

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan reg om in te tree indien daar ondersteuning in verband met ’n plaasmoordondersoek verlang word. Dit is soms nodig waar daar geen of min vordering in ’n saak is, of waar daar wantroue in die ondersoekvermoë van die polisie is.

Die eenheid sal ook indien nodig ’n waaksaamheidsopdrag in ’n plaasmoordsaak namens die klaer aanvaar en die hofverrigtinge bywoon om te verseker dat geregtigheid geskied.

Indien iemand om politiese redes nie vervolg word nie, sal die eenheid ook privaat vervolging instel aangesien niemand verhewe bo die reg is nie.

Ondersteun ons plan:

Oops! We could not locate your form.

Similar Posts