|

Eerste swart boere-egpaar op plaas in Vrystaat vermoor – AfriForum

AfriForum doen opnuut ’n beroep op die regering om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar en spesialiseenhede vir landelike beveiliging te ontplooi. Dít kom nadat Andrew en Loryn Monakane (albei 39) vroeër vandeesmaand wreedaardig op hul plaas Graigmont naby Dewetsdorp in die Vrystaat vermoor is. Volgens AfriForum se register is die Monakanes die eerste swart boere-egpaar wat in ’n plaasaanval in dié provinsie vermoor is.

“Hierdie insident is ’n duidelike bewys dat witmense nie die enigste slagoffers op plase is nie en dat die regering se poging om AfriForum se veldtog teen plaasmoorde as rassisties af te maak geen gewig dra nie. Landelike gebiede is onveilig en die polisie se weiering om behoorlike beveiliging in te stel, vererger die situasie,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid gesê.

Mnr. Monakane is doodgeskiet en mev. Monakane is tydens die aanval verkrag en in die gesig geskiet. Sy is luidens mediaberigte ʼn dag na haar ontslag uit die hospitaal by haar huis oorlede.

Volgens AfriForum is daar vroeër vanjaar ook ʼn swart boer in die Oos-Kaap saam met sy huishulp vermoor.

“Ons wil graag ʼn samewerkingsverhouding met die nuwe minister van polisie, Nkosinathi Nhleko vestig om saam landelike veiligheid te verbeter,” het Cameron afgesluit.

Similar Posts