|

AfriForum striem Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies

AfriForum se adjunk uitvoerende hoof, Ernst Roets, het vandag tydens die Verenigde Nasies (VN) se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switzerland, ʼn striemende aanval op die Suid-Afrikaanse regering se inset tydens die konferensie geloods. Die Suid-Afrikaanse regering het verklaar dat dié mense wat vra dat plaasmoorde geprioritiseer moet word, dit doen omdat hulle ’n rassistiese agenda het en omdat hulle apartheid-simpatiseerders is.

Roets het tydens die konferensie gesê dat die Suid-Afrikaanse regering se opmerking uiters beledigend teenoor minderheidsgemeenskappe is en ’n aanval is op die menswaardigheid van plaasmoordslagoffers.

Hy het ook die inkonsekwente optrede van die Suid-Afrikaanse regering uitgewys.

“Die regering is vinnig om aan te voer dat dit nie sin maak om plaasmoorde te prioritiseer nie, aangesien dit deel van ’n breër kategorie van misdaad is.

“Maar dit is vir die Suid-Afrikaanse regering maklik om renosterstropery te prioritiseer. Dit is vir die Suid-Afrikaanse regering maklik om meer polisiebeamptes na swart informele nedersettings te ontplooi wanneer daar ’n misdaadkrisis is, en dit ondersteun ons. Dit is vir die Suid-Afrikaanse regering maklik om ’n teenstrategie op te stel wanneer polisiebeamptes in disproporsionele getalle vermoor word.

“In Suid-Afrika is dit dubbeld so gevaarlik om ’n boer eerder as ’n polisieman te wees. Wanneer daar egter oor plaasmoorde gepraat word, is die reaksie skielik dat dit nie sin maak om dit te prioritiseer nie,” het Roets gesê.

Die verslag wat AfriForum by die VN ingedien het, bevat ’n aantal gevallestudies van insidente waar slagoffers wie se geliefdes in plaasmoorde vermoor is, deur die polisie en die strafregstelsel in die steek gelaat is.

Verslag: Verslag aan die Verenigde Nasies Forum vir Minderheidsaangeleenthede

Similar Posts