|

Voorsorg is beter as nasorg: Tien redes waarom plaasmoorde geprioritiseer moet word

Die moordenaars van die egpaar Ernest (77) en Annetjie (76) van Rooyen is verlede week tot dubbele lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Oupa Mokoena (47) en Ezekiele Mguni (30) het dié egpaar in Januarie vanjaar op die plaas Somerset, naby Parys in die Vrystaat vermoor. Ernest se liggaam is op hul plaaswinkel se vloer gevind – hy is dood aan bloedverlies. Annetjie se liggaam is in die vrieskas gevind, waar sy versmoor het nadat sy lewendig daarin geprop is. In dieselfde week waarin die vonnisoplegging gedoen is, is Hennie Bentley (73) en Gerrit Myburgh (78) vermoor. Bentley is die naweek oorlede nadat sy familie verlede week op sy plaas buite Vanderbijlpark aangeval is. Myburgh is verlede Sondagaand op sy hoewe buite Heidelberg vermoor.

Dat die skuldigbevinding en vonnisoplegging goeie nuus onder die omstandighede is, kan nie betwis word nie. Op die vraag of hierdie stap ons nader bring aan ʼn oplossing vir die geweldige plaasmoordverskynsel wat die land getref het, is die antwoord ongelukkig nee. Die feit dat Mokoena en Mguni skuldig bevind is, moet uiteraard verwelkom word en die ondersoekbeamptes wat die hof in staat gestel het om die skuldigbevinding te maak, moet geprys word. Die afsluiting van ʼn individuele insident bring ons egter nie nader aan ʼn oplossing vir ʼn groeiende krisis nie. Nasorg is belangrik, maar voorsorg selfs belangriker.

Die enigste volhoubare oplossing vir plaasmoorde is dat die minister van polisie ʼn pro-aktiewe strategie teen plaasmoorde instel. Tot dusver weier die minister nie net om so ʼn strategie in te stel nie, maar hy weier selfs om net te erken dat plaasmoorde ʼn krisis is. Motivering vir die priorisering van plaasmoorde is egter legio.

  1. Erkenning van die probleem ʼn vereisteTen spyte van oorweldigende bewyse vir die krisis, weier die minister om te erken dat daar ʼn probleem is. ʼn Basiese vereiste vir die doeltreffende voorkoming van enige buitengewone misdaad is dat die feite erken en verreken moet word. So lank as wat die minister weier om te erken dat plaasmoorde ʼn krisis is, sal ʼn gefokusde teenstrategie nie ingestel word nie. Die eerste stap is erkenning.
  2. ʼn Unieke misdaad verg ʼn unieke teenstrategieDat unieke misdade op unieke wyse beveg moet word, is basiese misdaadsvoorkomingsteorie. Hoewel Mthethwa dit (nog) nie erken nie is plaasmoorde uniek om verskeie redes. Die grootste rede is dat boere in verafgeleë woon waar reaksietyd van die plaaslike polisie en selfs van die bure nie voldoende is nie.
  3. Buitengewone frekwensieDie tweede uitgawe van die boek Treurgrond het onlangs op die rakke verskyn. Die boek bevat die besonderhede van 1610 persone wat in die afgelope twee dekades op plase vermoor is. Elke geval wat vermeld is, is deur die uitgewers geverifieer, maar dit beteken dat dit nie noodwendig die volledige prentjie weerspieël nie. Dat die getal klein is in vergelyking met die aantal mense wat byvoorbeeld in swart informele nedersettings vermoor word, is waar. Die getal moet egter gemeet word teen die grootte van die betrokke groep (in die voorbeeld – die totale aantal boere in Suid-Afrika, in vergelyking met die totale aantal persone wat informele nedersettings woon). Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het onlangs gepoog om die plaasmoordsyfer te bereken. Op grond van die laaste beskikbare amptelike syfers is die Suid-Afrikaanse plaasmoordsyfer bereken op 98,8 per 100 000 per jaar. Dit is drie keer so hoog soos die algemene moordsyfer in Suid-Afrika en veertien keer so hoog soos die wêreldgemiddelde moordsyfer.
  4. Unieke vlakke van brutaliteitDie bekende susters Roelien Schutte en Eileen de Jager van Crime Scene Clean-up het al meer as tweeduisend misdaadtonele in Suid-Afrika skoongemaak, waarvan honderde plaasaanvalle was. In hul boek, Bloedsusters, skryf hulle dat plaasmoorde die wreedste misdade is wat hul ooit teëgekom het. So wreed dat hul daarop aandring dat dit moord genoem moet word nie, maar “plaasmarteling” of “plaasterreur”. Kriminoloog Lorraine Claassen het onlangs hierby aangesluit toe sy in ʼn verslag vir die Solidariteit Navorsingsinstituut geskryf het dat die vlakke van brutaliteit by plaasmoorde met dié van terreuraanvalle vergelyk kan word.
  5. Unieke rol in die samelewingDie unieke rol wat boere in die samelewing speel moet nie uit die oog verloor word nie. Die minister skuil graag agter die beskuldiging dat diegene wat op die prioritisering van plaasmoorde aandring dit doen omdat hulle boere as “goue seuns en dogters” beskou. Dit is ver van korrek af. Wat egter wel korrek is, is dat boere ʼn unieke rol in die gemeenskap vervul. Boere is werkskeppers wat in baie gevalle gemeenskappe onderhou. Elke keer wat ʼn boer vermoor word, word ʼn plaas vermoor. Elke keer wat ʼn plaas vermoor word, word ʼn gemeenskap se wind uitgeslaan. Boere beteken voedselsekerheid. As daar nie boere is nie, is daar nie kos nie. So eenvoudig is dit.
  6. Nakoming van die belofte by die afskaffing van die kommando’sIn 2003 het voormalige president Thabo Mbeki onverwags aangekondig dat die kommandostelsel afgeskaf word. Hy het egter bygevoeg dat ʼn alternatiewe struktuur, wat vanuit die polisie bestuur sal word in die plek daarvan geskep sal word. Meer as tien jaar het sedertdien al verloop en hierdie belofte is nog nie nagekom nie.
  7. Deprioritisering ten spyte van ʼn skerp stygingInteressant genoeg is plaasmoorde vantevore inderwaarheid tot ʼn mate as ʼn prioriteitsmisdaad benader. Amptelike statistiek is uitgereik, regeringsberade is gehou oor die voorkoming daarvan en die regering het druk op die polisie gesit om dit te bekamp. In 2007 was daar skielik ʼn skerp styging in plaasmoorde (ʼn styging van ongeveer 25%), waarna die minister van polisie ingegryp het, maar op ʼn wyse wat tot vandag toe nie verklaar kan word nie. Ná die skerp styging in plaasmoorde het die minister van polisie ʼn besluit geneem dat geen verdere statistiek oor plaasmoorde vrygestel mag word nie. Met hierdie stap het die minister inderwaarheid plaasmoorde gedeprioritiseer.
  8. Dubbeld so hoog soos die moorde op polisiebeamptesGedurende 2011 is die moordsyfer op polisiebeamptes op 51 per 100 000 bereken. Die regering het hierop gereageer deur onmiddellik in te gryp en ʼn nasionale beraad oor polisiemoorde te organiseer. Die minister het hom sterk hierteen uitgespreek en ʼn gefokusde teenstrategie is geïmplementeer. Reeds vier jaar vantevore was die moordsyfer op boere bykans dubbeld so hoog. In reaksie hierop is die misdaad gedeprioritiseer. Dit, ten spyte daarvan dat polisiëring ʼn hoërisikoberoep is terwyl boerdery nie veronderstel is om ʼn hoë risiko te wees nie.
  9. Die regverdiging van spesifieke kategorieë misdadeDie minister se gunstelingargument waarom plaasmoorde nie geprioritiseer kan word nie is deesdae dat dit nie sin maak om ʼn spesifieke vergestalting van ʼn misdaad wat reeds erken en beveg word te prioritiseer nie. Wat hy daarmee bedoel, is dat plaasmoorde eintlik maar net ʼn vorm van moord is en dat dit nie sin maak om ʼn spesifieke soort moord bo ander moorde uit te lig nie. Dit klink dalk na ʼn stewige argument. Die teenargument is (weereens) dat unieke vergestaltings wat problematies is op unieke wyse opgelos moet word. Die minister se eie inkonsekwente optrede ondermyn hierdie argument verder. As die argument konsekwent toegepas sou word, sou dit beteken dat diefstal van koperkabels nie geprioritiseer kan word nie. So ook die stropery van renosters, geweld teen vroue en kinders en geweld in bendeverband.
  10. ʼn Politieke geleentheid of ʼn politieke verleentheidOngeag wat die regering se besluit ten opsigte van die prioritisering van plaasmoorde is, dit sal ʼn sterk boodskap uitdra. Indien daar wel op die prioritisering daarvan besluit word, sal die regerende ANC bewys dat hy nie net oor sy eie kiesers besorg is nie (as aanvaar word dat baie boere nie noodwendig ANC stem nie) en dat die party werklik daartoe verbind is om Suid-Afrika ʼn beter plek te maak vir almal wat daarin woon. Met die voortgesette ontkenning van die probleem stuur die regering egter die teenoorgestelde boodskap uit en plaas hy homself al hoe meer in die internasionale kollig as ʼn regering wat nie daartoe in staat is om doeltreffend na sy burgers om te sien nie, wat politieke retoriek verhef na ʼn vlak waar dit selfs belangriker word as die lewens van sy landsburgers.

Ernst Roets
Ernst is adjunk uitvoerende hoof van AfriForum
Volg hom op Twitter by @ernstroets

Similar Posts