|

Ope brief vanaf Kallie Kriel

Beste vriende,

OPROEP OM BY BUURTWAGTE IN TE SKAKEL

Ons almal is met reg woedend en ontsteld oor die wrede moorde op boere terwyl die regering skynbaar niks daaraan doen nie. Dié plaasaanvalle hou nou al jare aan, en vanjaar was daar reeds 341 aanvalle en 70 moorde. Dit neem vir die sesde agtereenvolgende jaar toe. Daarmee saam is mense in dorpe en stede ook nie veilig teen die plaag van geweldsmisdaad wat ons almal teister nie.

Om hierdie rede werk AfriForum sedert 2013 baie hard daaraan om ’n landwye netwerk van doeltreffende buurtwagte te stig, en ons het nou meer as 100 werkende veiligheidstrukture wat uit sowel buurt- as plaaswagte bestaan. Hierdie buurtwagte word sover moontlik van die nodige opleiding en toerusting voorsien, en personeel word landwyd aangestel om hulle te koördineer. Beheerkamers word ook opgerig om met buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en die SAPD te skakel om misdadigers vinniger vas te vat.

Dit is egter nie ’n kitsoplossing nie; dit neem baie tyd en is baie duur. Dit is die grootste projek wat AfriForum ooit aangepak het en waaroor ons die sterkste voel. Veiligheid is ons eerste prioriteit. Maar almal weet hoe groot die misdaadkrisis is en hoe moeilik dit is om volhoubare oplossings in plek te stel. Die omvang en koste van hierdie projek noodsaak ons om op groot skaal lede te werf om genoeg mense betrokke te kry om hierdie veiligheidstrukture landswyd te kan vestig. Terselfdertyd is die ledegeld nodig om die hele stelsel te kan befonds. Soos julle weet, kry ons nie belastinggeld soos die SAPD nie, en ook nie premies soos sekuriteitsmaatskappye nie.

Maar ons veiligheidstrategie strek veel breër. Ons het al talle hofsake teen die SAPD gemaak, deur die media groot openbare druk op die regering geplaas en voorleggings aan die Parlement gedoen. Ons veldtog teen plaasmoorde word ook op internasionale forums gevoer, en ons het al druk op die regering geplaas via byvoorbeeld die VN se Menseregtekommissie en deur van talle ander buitelandse forums gebruik te maak. Die organisasie hou egter aan om druk op die regering en SAPD te plaas om strenger op te tree. Ons hou ook met internasionale bewusmaking aan en sien gereeld verteenwoordigers van ander lande om die kwessie onder hulle aandag te bring sodat daar van hul kant af óók druk op ons regering geplaas word. Ons benodig ook die publiek se steun om die nodige druk te kan toepas.

Ons grootste uitdaging is om dié tipe staats-dienste (soos veiligheid) te lewer sonder staatsinkomste soos belasting of straatstrukture soos voltydse polisiebeamptes. Daarom het ons nie ’n ander keuse nie as om ledegeld te vra om hierdie en die vele ander dienste te befonds wat AfriForum lewer. Dít is die rede waarom ons SMS’e aan die publiek uitstuur om steun te werf.

Ons begryp die woede en frustrasie van mense oor die aanhoudende plaasaanvalle en moord op ons land se boere. Dit is die rede waarom AfriForum nie net praat nie, maar ’n aktiewe, landwye veiligheidsnetwerk vestig. Ons ondersteun die dra van swart klere Maandag ter wille van bewusmaking van plaasmoorde, maar die oplossing gaan veel meer verg, naamlik aktiewe betrokkenheid. Daarom doen ons ’n dringende beroep op almal om aktief by jou naaste buurtwag betrokke te raak. Ons sal eers veilig kan slaap as ons beter as die misdaadbendes georganiseer is.

Raak by dié oplossing betrokke. Sluit by ’n buurtwag aan. Stuur ’n e-pos aan veiligheid@afriforum.co.za vir meer besonderhede oor nou naaste veiligheidstruktuur.

Kallie Kriel

 

Similar Posts