|

AfriForum stel plan bekend om Parys-boere by te staan

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n plan bekendgestel wat ten doel het om die vier boere van Parys, wat daarvan aangekla word dat hulle twee plaasaanvallers vermoor het, in hul hofsaak by te staan. AfriForum het onder meer ’n platform geskep waardeur lede van die publiek skenkings kan maak om hierdie boere by te staan.

Dit volg op ’n insident wat op 6 Januarie 2016 plaasgevind het nadat Loedie van der Westhuizen (72) op sy plaas aangeval en erg aangerand is. ’n Beweerde skermutseling het tussen boere van die gemeenskap en die gewapende plaasaanvallers plaasgevind, waarna die aanvallers glo op pad hospitaal toe oorlede is.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat die insident betreurenswaardig is en dat die saak in die hof beslis moet word.

“Die werklikheid is egter nie so eenvoudig nie,” het Roets gesê.

“Boere oor die land heen word deur geweld en moord geteister. Dit geld veral vir die Parys-gemeenskap, wat al onder die mees brutale plaasmoorde deurgeloop het. Dit, tesame met die feit dat die regering steeds weier om plaasmoorde te prioritiseer en dat polisie-ondersoeke van plaasmoorde dikwels op lamsakkige wyse aangepak word, lei tot ’n algehele gebrek aan vertroue in die regering en die polisie om plaasmoorde stop te sit.”

Die plan om die boere by te staan sluit die volgende in:

  1. AfriForum het aangebied om die boere se regskoste te dra.
  2. AfriForum het ’n SMS-diens begin waardeur die publiek R10 kan skenk om die boere met regskostes te help. Lede van die publiek kan “PARYS BOERE” na 38312 SMS om ’n R10-skening te maak.
  3. Lede van die publiek wat groter skenkings wil maak, kan AfriForum by 086 10 200 30 skakel of hul skenkings inbetaal deur die bankbesonderhede hieronder te gebruik. AfriForum se finansiële afdeling sal die skenkings in samewerking met die beskuldigdes se families bestuur en aanwend.

Banknaam: FNB

Taknommer: 261-550

Rekeningnommer: 623 4989 8398

Verwysing: Parys-boere

  1. AfriForum het sy regspan opdrag gegee om verder ondersoek in te stel na die bewerings dat beide die ANC en die EFF die verbanne lied “Kill the Boer, kill the farmer” gister by die hof gesing het. Regsopsies word tans oorweeg.

“Die werklike beskuldigde in hierdie saak behoort nie die boere te wees nie, maar eerder die staat, wat in die eerste plek ’n klimaat van aanhitsing en geweld teen boere geskep het, en in die tweede plek nie bereid is om plaasmoorde met die nodige erns aan te spreek nie,” het Roets verduidelik.

AfriForum het reeds verskeie versoeke vanuit die publiek ontvang van mense wat donasies wil maak om dié boere se regskostes te help dek.

Similar Posts