|

AfriForum vra vir kommissie van ondersoek na oorsake van plaasmoorde

Die burgerregte-organisasie het vandag gevra dat ’n onafhanklike kommissie van ondersoek aangestel word om te bepaal wat die faktore is wat tot plaasmoorde aanleiding gee. Hierdie aankondiging is in Centurion tydens die mediabekendstelling van Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, se boek Kill the Boer gemaak.

Tydens die bekendstelling het Roets ’n bandopname gespeel waarin ’n leier van die 28-tronkbende beweer dat Julius Malema, die EFF-leier, hulle in die tronk gaan sien het om oor plaasmoorde te praat. Roets het ook vertel van sy eie ervaring toe ’n gevonnisde plaasmoordenaar vir hom vertel het dat hy ’n lid van die ANC se militêre vleuel, uMkhonto we Sizwe, is en dat die ANC aan hom opdrag gegee het om ’n boer te vermoor. Roets sê dat hierdie bewerings in ’n ernstige lig beskou moet word en dat dit deeglik ondersoek moet word. Die bandopname waarin bewerings oor Malema gemaak word, is reeds in Maart 2017 op die aktualiteitsprogram Carte Blanche uitgesaai. Die EFF het destyds gesê dat Malema nie tyd het om daarop kommentaar te lewer nie. Die kwessie is ook nie verder ondersoek nie.

In die boek Kill the Boer word aangevoer dat die Suid-Afrikaanse regering aandadig tot die krisis van plaasmoorde is. Tien redes word vir hierdie bewering verskaf. Verskeie voorvalle van politieke aanhitsing tot plaasmoorde, asook plaasmoorde waar politieke- of rasmotiewe duidelik ’n rol gespeel het, word in die boek aangehaal.

Roets verduidelik dat AfriForum nie aanvoer dat alle plaasmoorde polities gemotiveer is nie, maar dat die organisasie wel bekommerd is dat die politieke element tans onderspeel word. “Ons ontleding van vyf voorvalle van haatspraak deur vername politieke leiers teen boere het gedui dat plaasmoorde in die maande wat op hierdie voorvalle gevolg het met ’n gemiddeld van 74,8% toegeneem het.”

Kill the Boer is ’n boek oor die wreedaardige werklikheid van plaasaanvalle in Suid-Afrika en hoe die Suid-Afrikaanse regering tot die krisis aandadig is. In die boek word daar aangevoer dat die Suid-Afrikaanse regering vir ’n verskeidenheid redes aandadig geag moet word, insluitend sy deprioritisering van die krisis ten spyte van die verergering daarvan; negatiewe stereotipering van wit boere in besonder; romantisering van geweld wat op boere toegedien word; voortsetting van haat vanaf politieke platforms; en die veragting en bespotting van die slagoffers van hierdie aanvalle.

Die boek ontbloot gevalle van die direkte betrokkenheid van lede van die regerende ANC, die Suid-Afrikaanse regering en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in besonder, in die beplanning en uitvoering van hierdie aanvalle. Daar word aangevoer dat ’n opdoemende proses van etniese reiniging as ’n ernstige bedreiging geag en voorkom moet word. Die aandadigheid van die Suid-Afrikaanse media word ook deur ’n ontleding van nuusverslae aangedui, wat duidelike partydige verslaggewing uitwys en lei tot die beswaddering en negatiewe stereotipering van wit boere in besonder.

’n Verskeidenheid redes word uitgewys waarom plaasaanvalle uniek is en verdien om as ’n prioriteitsmisdaad hanteer te word. Hierdie sluit in die unieke frekwensie waarteen hierdie aanvalle plaasvind, die afgryslike vlakke van marteling wat gereeld met hierdie misdade gepaardgaan, die rol wat boere in die gemeenskap speel en die unieke omstandighede waarin boere hulself bevind.

Die boek sal op Saterdag 30 Junie 2018 aan die publiek bekend gestel word en sal binnekort in boekwinkels beskikbaar wees.

Similar Posts