|

Treurgrond: “ ’n Ontmoeting met jou sterflikheid”

Fliekgangers het Donderdagaand wisselende emosies van hartseer, skok, verslaentheid en ’n dieper besef oor die realiteit van plaasmoorde verwoord nadat hulle die première van die Treurgrond-film in Menlyn in Pretoria bygewoon het.
Sowat ’n duisend fliekgangers, die akteurs wat die rolle vertolk, die vervaardigingspan en talle bekendes uit die vermaaklikheidsbedryf het die eerste vertoning bygewoon. Onder die akteurs was Steve Hofmeyr, Jana Strydom, Barbara-Marie Immelman, Shaleen Surtie-Richards, Graeme Kriega en Erica Wessels.

Treurgrond is deur Phoenix Films vervaardig met die befaamde Darrell Roodt as regisseur.
Van die fliekgangers het voor die vertoning gesê hulle is “versigtig optimities” oor wat hulle verwag.
Frank Roos het gesê plaasmoorde is ’n wrede realiteit. “Ek het self op ’n plaas grootgeword en wat nou aangaan, is uiters ontstellend. Niks in die land werk meer nie. Die regering is nie in beheer nie.”
Frikkie van Schalkwyk, ’n rekenmeester, het gesê hy het gemengde gevoelens oor wat hy kan verwag. “In my hart is ek ’n Boer en dis hoekom ek die film kom kyk.”
Adele Olivier en Michelle Terreblanche het die film kom kyk omdat hulle families nog op plase in die Kroonstad-omgewing boer.
Terreblanche het gesê haar familie besit nog die plaas, maar niemand bly meer daarop nie omdat dit by die dag erger raak.
Olivier se ouers boer steeds, maar die plaas is in die mark. “Daar was al aanvalle in die omgewing en mens slaap eenvoudig nie meer rustig nie.”
Sy het vertel van ’n buurvrou wat tydens ’n aanval aangerand, verkrag en vermink is. “Dit is tyd dat wet en orde terugkom. Die boere sal moet saamstaan om hulself te beskerm.

Wat die boodskap van die fliek betref het Hofmeyr gesê hy vertolk die rol (Lukas van Staden) van ’n gewone ou. “Dis nodig dat mense die film kom kyk omdat plaasmoord-statistiek vir hulself praat. My mense is in die minderheid. Maar ons kan nie op die kantlyn bly sit en waarnemers wees nie.”
Hy het gesê Treurgrond is ook “’n ontmoeting met ’n mens se eie sterflikheid”.
Kriega het gesê die film verwoord Suid-Afrikaners se liefde vir mekaar. “Ons sê nee vir xenofobie en plaasmoorde moet ook deur ons regering verwerp word. Dit raak ons almal.”

Surtie-Richards se kommentaar was dat Treurgrond ’n belangrike storie is. “Dis dinge wat in die land gebeur wat mense moet hoor en sien. Dit gaan nie oor wit en swart nie, maar oor menselewens en politiek moet hieruit gehou word.
“Ons kan nie die sonde probeer wegsteek nie en as ’n nasie kan ons wat gebeur stop. Ons moet vir mekaar omgee.”

Talle fliekgangers het die teaters na afloop van die fliek met rooi gehuilde oë verlaat.
Lisa van den Berg het gesê: “Die film wys wat tydens plaasmoorde gebeur. Dis hartverskeurend en skokkend.”
Vian en Verné Henning het gesê “die storie van plaasmoorde kom beslis uit. Mens kan maar net wonder hoe wyd dit gaan trek.”
Alta Maree het gesê die film het haar persoonlik diep geraak omdat haar pa self 27 jaar gelede op sy plaas in die Kameeldrift-omgewing buite Pretoria vermoor is. “Die polisie was destyds uiters bekwaam. Ons saak is nog deur (genl.-maj.) Suiker Britz ondersoek en die moordenaars is gevang.”

Mike en Zenobia Visagie het gesê Treurgrond is ’n kragtige Afrikaanse film wat die breë perspektief op plaasmoorde belig. “Daar is baie waarheid in en Steve se vertolking van sy rol is briljant.”
Die baasspeurder Piet Byleveld se reaksie op Treurgrond was: “ ’n Mens mag nie haatdraend wees nie. Maar plaasmoordenaars moet die doodstraf kry. Dis al manier om ’n einde hieraan te bring.”

Similar Posts