|

AfriForum versoek toegang tot plaasmoordsyfers

AfriForum het ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ’n formele versoek aan die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, gerig om plaasmoordstatistieke van 1990 tot 2015 aan die organisasie te oorhandig. Verder versoek die organisasie dat die polisie se metodiek rondom die insameling van statistiek oor plaasmoorde bekend gemaak word.

Dit volg nadat die regering in 2007 bekend gemaak het dat geen verdere statistieke oor plaasmoorde ingesamel sal word nie. Phiyega het egter in Maart vanjaar verklaar dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) eintlik nog al die jare daarmee besig is en beweer dat die syfers om “operasionele redes” steeds bygehou word. Phiyega het dan ook syfers bekend gemaak, wat volgens AfriForum se data (ingesamel in samewerking met die landbou-unie, TLU SA) duidelik foutief is.

AfriForum het onder meer die volgende inligting van die polisiekommissaris aangevra:

  1. Jaarlikse statistieke vir plaasmoorde en -aanvalle vanaf 1990 tot April 2015.
  2. Jaarlikse provinsiale statistieke vir plaasmoorde en -aanvalle vanaf 1990 tot April 2015.
  3. Jaarlikse statistieke vir plaasmoorde en -aanvalle, ingedeel volgens streke vanaf 1990 tot April 2015.
  4. Plaaslike polisiestasies se statistieke vir plaasmoorde en -aanvalle vanaf 1990 tot April 2015.
  5. Die dokument waarin die metodologie vir die insameling van data vir 1 tot 4 hierbo, sowel as die verwerking daarvan, uiteengesit word.

Volgens AfriForum en TLU SA se rekords is daar tot en met die datum waarop Phiyega die inligting bekend gemaak het, ten minste 316 verifieerbare plaasmoorde in die afgelope vyf jaar gepleeg. Phiyega het egter beweer dat daar volgens die SAPD slegs 271 plaasmoorde in dieselfde tydperk plaasgevind het.

“Die publiek was vir lank genoeg in die donker gehou en AfriForum beskou dit as noodsaaklik dat die SAPD hierdie inligting bekend maak, ook ter wille van publieke vertroue in die SAPD. Die polisiekommissaris se bewering in Maart vanjaar dat plaasmoorde oor die afgelope vyf jaar afgeneem het, word sterk bevraagteken, aangesien daar meer verifieerbare name van plaasmoordslagoffers op ons lys is as die somtotaal wat deur Phiyega bekend gemaak is,” sê Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.

Roets sê verder dat die openbaarmaking van die plaasmoordstatistieke ’n aanduiding sal wees of die polisiekommissaris die plaasmoordsyfers aangepas het om die publiek te mislei, en of die SAPD net nalatig of onbekwaam is om betroubare syfers by te hou.

Similar Posts