|

Bevoorreg of nie? Besluit jy!

Ek word daagliks gekonfronteer met die realiteit van misdaad… “Gewone” moorde, plaasmoorde, plaasaanvalle, swak diens deur die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag, en vele ander uitdagings maak my dae vol.

Dan wil mense altyd weet: “Pla dit jou nie”, of “Hoe hou jy dit”? As ek sê dat dit nie ʼn invloed op my het nie, gaan ek definitief jok. Geniet ek wat ek doen? Baie beslis en ek sal dit nie verruil nie.

Ja, ek weet jy gaan dalk nou dink ek het ʼn klap van die windmeul weg, maar kom ek vertel meer, dan besluit jy of ek van die wa af is en of ek bevoorreg is.

Die afgelope tyd word daar hewig debat gevoer in die media en ook op die sosiale netwerke, alles oor statistiek, en dan raak dit sommer erg persoonlik ook. Dit kan sommer maklik uitloop op vuisgevegte.

Statistiek is belangrik om jou saak sterk te maak en daarom probeer ons dit doen ook hier by AfriForum. Dit is ook natuurlik belangrik dat jou statistiek geloofwaardig moet wees, anders gaan niemand jou glo nie.

In die nuutste uitgawe van Treurgrond: Die realiteit van plaasaanvalle, 1990-2012 (Kraal Uitgewers) word 3 319 aanvalle aangeteken, waarvan 1 610 moorde was. Die skrywers gee egter toe dat die syfers baie konserwatief is, aangesien elke geval wat in die boek opgeteken is eers geverifieer is en daar moontlik ʼn groot aantal plaasaanvalle was, waarvan die skrywers nie kennis dra nie. Slegs aangemelde voorvalle deur media en families is opgeteken. Roelof van der Westhuizen is in Julie 2006 op sy plaas aangeval en dit is nie aangeteken nie. Hubbe van der Veen wat in 2012 aangeval is se voorval is ook nie aangeteken nie. Dit steun my standpunt dat statistiek van plaasaanvalle konserwatief is.

Statistiek gee aan ʼn slagoffer ʼn nommer. Aanval 2905 is vir mense op die sosiale netwerke net ʼn nommer en nóg ʼn moord, maar vir Amanda Kruger was dit haar man, Iep Kruger.

Nommer 2905 het op aftree gestaan en was reg om saam met sy vrou, Amanda te gaan toer, hul sorgelose dae na aftrede was haarfyn beplan. Ek het die voorreg gehad om met Amanda te kon gesels ná die moord en ook te luister na hul drome, om iets te verstaan van Iep Kruger wat vir ander nommer 2905 is.

Nommer 3188 was ook iemand met drome. Sy naam was David Hall, ʼn melkboer van Fochville, ʼn saggeaarde man. Ek het weer die voorreg gehad om met sy vrou, Bernadette te kon gesels, te luister na haar hartseer, maar ook hoe positief sy is dat sy nêrens heen gaan nie en net wil aanhou boer. ʼn Inspirasie.

Nommer 3202 het dit oorleef, en ja, hy het ook ʼn naam én ʼn lewensstorie om te vertel. Dit was ʼn reusevoorreg om met Bouke Tack te kon gesels en te hoor dat hy geen haat in sy hart dra nie, en ongeag die feit dat hy ná die aanval aan ʼn rolstoel gekluister is, steeds besluit het hy bly op die plaas en gaan voort met die boerdery.

Verlede week ontmoet ek vir Noël McSeveney… vir baie mense nog ʼn hartseer statistiek, maar vir my ʼn inspirasie.

Ek luister hoe hy vertel hoe “die lewe uit hom gevloei het”, hoe hy voel dat hy besig is om te sterf. Sy tyd is verby. Hy vertel van die visioen wat hy sien van ʼn swart wolk wat in sy rigting aangerol kom… en berge.

“Ek het besef ek gaan dood”, sê hy. Ek luister aandagtig hoe hy vertel hoe hy ’n bekende Halleluja-lied prewel “…moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet…”. Skielik verander die swart wolk na wit, en hy word wakker terwyl hy Psalm 23 opsê. Noël moes eintlik nie oorleef het nie. Dit was ʼn wonderwerk hierdie! Op sosiale netwerke is sy aanval aangemeld, amper net openbaargemaak as nog een van vele. Dit was ʼn voorreg om met hom te kon gesels en die slagoffer, die mens te ontmoet, nie net ʼn nommer nie.

So kan ek aanhou name noem na wie se stories van lewe, planne en drome ek kon luister, al is dit so onbepland kortgeknip… Jaco Swart, Louwrens Gebhardt, Mauritz Oberholzer, Wybrand Pistorius, Oom Koos “Tamatie”, Bernadine Kruger, Ronè Knell, Michael Schoeman…

Agter elke nommer of opmerking op ‘n sosiale netwerk is ʼn gesig en ek het die voorreg om daagliks met die mens agter die statistiek te kan gesels. Ek word deur elkeen, of dit die slagoffer is wat dit oorleef het óf die familie wie se geliefdes vermoor is, geïnspireer.

Is statistiek verkeerd? Ongetwyfeld nie.

As ek soms moedeloos voel, gee die slagoffers en/of families se stories, hulle opstaan, hul stryd om voort te gaan sonder om te gaan lê my weer hoop… en ék wil opstaan, gaan werk en nóg gaan luister…

ʼn Inspirasie, ʼn voorreg!

Similar Posts