|

AfriForum behaal oorwinning in hooggeregshof; SAPD moet plaasmoordstatistiek oorhandig

AfriForum het vandag ʼn oorwinning in die Pretoriase hooggeregshof behaal nadat regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen beslis het dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) statistiek oor plaasmoorde en -aanvalle tussen 1990 en 2015, sowel as die metodiek rondom die insameling van die statistiek, aan dié burgerregte-organisasie moet oorhandig.

Dit spruit uit die formele versoek wat AfriForum in Mei 2015 aan die afgedankte nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, gerig het vir die SAPD se volledige plaasmoordstatistiek vir die tydperk tussen 1990 en 2015.

Die aansoek is ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting gebring nadat die regering in 2007 bekend gemaak het dat geen verdere statistiek oor plaasmoorde ingesamel sal word nie. Phiyega het egter in Maart 2015 gesê dat die SAPD nog al die jare daarmee besig is. Sy het beweer die syfers word om “operasionele redes” steeds bygehou, maar nie gepubliseer nie.

“Ons beskou die saak as ’n reusedeurbraak in die stryd teen plaasmoorde. Die polisie hou hierdie inligting by, maar weier sedert 2007 om dit aan die publiek bekend te maak. Uiteindelik gaan die publiek weet wat die polisie weet. Dit is egter tragies dat ’n mens tot in die hooggeregshof moes baklei om hierdie basiese inligting te bekom,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Die volgende inligting moet binne 30 dae ná die betekening van die hofbevel op die SAPD bekend gemaak word:

  1. Jaarlikse statistiek vir plaasmoorde en -aanvalle tussen 1990 en April 2015.
  2. Jaarlikse provinsiale statistiek vir plaasmoorde en -aanvalle tussen 1990 en April 2015.
  3. Jaarlikse statistiek vir plaasmoorde en -aanvalle, ingedeel volgens streke tussen 1990 en April 2015.
  4. Plaaslike polisiestasies se statistiek vir plaasmoorde en -aanvalle tussen 1990 en April 2015.
  5. Die dokument waarin die metodologie vir die insameling van data vir 1 tot 4 hierbo, sowel as die verwerking daarvan, uiteengesit word.

AfriForum dryf sedert 2012 ’n veldtog om korrekte statistiek rondom plaasmoorde en -aanvalle te bekom, asook om dié tot prioriteitsmisdaad verklaar te kry. Roets het voorts gesê dat die publisering van dié statistiek die eerste stap is om plaasmoorde te prioritiseer.

Similar Posts