|

Prioritisering van plaasmoorde: AfriForum gaan polisiehoof ontmoet

Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan op 4 Mei 2016 met lt.genl. Phahlane Kgomotso, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, vergader om die wyse te bespreek waarop plaasmoorde geprioritiseer kan word en hoe AfriForum hiertoe kan bydra. Dít volg op lt.genl. Phahlane se opmerking in die media vroeër vanjaar dat plaasmoorde groter prioriteit moet geniet.

Dié uitspraak was egter nie ’n besluit wat deur die polisie geneem is nie, maar moet eerder gesien word as erkenning dat daar wel ’n probleem bestaan. AfriForum het in die lig van hierdie uitspraak met lt.genl. Phahlane in verbinding getree en ’n gesprek versoek.

“AfriForum beplan om nie net bepaalde voorstelle aan lt.genl. Phahlane te maak nie, maar om ook ’n petisie te oorhandig waarop meer as 100 000 beswaarde lede van die publiek eis dat plaasmoorde geprioritiseer word,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. “Dit is nóú die beste geleentheid om ’n werklike impak te maak, en dit is belangrik dat soveel moontlik lede van die publiek wat AfriForum se besware oor plaasmoorde deel, dié petisie onderteken. Dit is nie bloot ’n petisie wat in ’n asblik sal beland nie, maar ’n petisie wat op die lessenaar van die nasionale polisiekommissaris geplaas sal word.”

Lede van die publiek kan die petisie ondersteun deur hul naam na 32534 te SMS (R1) of die webblad www.stopdiemoorde.co.za te besoek en die petisie daar te onderteken. Mense word ook aangemoedig om dié besonderhede aan vriende en kontakte te stuur.

Similar Posts