|

AfriForum verskerp veldtog vir internasionale bewusmaking van plaasmoorde

AfriForum het vandag ʼn memorandum aan 15 ambassades oorhandig waarin die burgerregte-organisasie versoek dat dié lande druk op die Suid-Afrikaanse regering moet uitoefen om die regte van minderhede te beskerm asook om die plaasmoordkrisis die hoof te bied.


Die memorandum lê spesifiek klem op die optrede van verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse regering verlede week by twee afsonderlike forums wat deur die Verenigde Nasies (VN) gehou is. Tydens die Forum vir Minderheidsaangeleenthede het die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger dáárdie organisasies wat op die prioritisering van plaasmoorde fokus, daarvan beskuldig dat hulle “apartheidsimpatiseerders” is. By ʼn ander forum waartydens daar gestem is oor die rol van kampvegters vir menseregte, het die Suid-Afrikaanse regering téén die resolusie gestem.

“Hierdie gedrag deur die regering stuur ʼn duidelike boodskap. Dit is voor die hand liggend dat menseregte en in besonder die regte van minderheidsgroepe binne Suid-Afrika, nie vir die ANC-regering belangrik is nie,” het Henk Maree, AfriForum se nasionale woordvoerder, gesê.

AfriForum het die memorandum aan lande soos Duitsland, die VSA, Frankryk, Switserland, Kanada, Namibië en Swede oorhandig. In die memorandum word daar ook verwys na die Potgieter-gesin se grusame moord presies vyf jaar gelede. Attie Potgieter is 151 keer met ʼn tuinvurk gesteek en sy tweejarige dogtertjie is in die kop geskiet voordat haar liggaam in ʼn kartonboks gegooi is. Haar ma, Wilma, is op haar knieë gedwing en van agter in die kop geskiet.

“Nadat dié grusame moord plaasgevind het, het verteenwoordigers van die regering aangevoer dat die regering sal ingryp om soortgelyke moorde te voorkom. Dit is egter vandag vyf jaar later en die regering het nog nie ʼn vinger gelig nie,” het Maree bygevoeg.

ʼn Groep verteenwoordigers van AfriForum het elk van die 15 ambassades te voet besoek en tussendeur die besoeke sosiale media aan die gons gehad.

“Duisende mense, plaaslik en internasionaal, is vandag deur die aksie bereik en ons is vas oortuig dat ons pleit nie op dowe ore gaan val nie,” het Maree afgesluit.

Similar Posts