|

AfriForum sê spesialis-eenhede speel beduidende rol in misdaadbekamping

AfriForum sê dit is duidelik – uit die misdaadstatistiek wat vandag bekendgemaak is – dat die SAPD se spesialis-eenhede ’n beduidende bydrae gelewer het in die afname en bekamping van prioriteitsmisdade die afgelope finansiële jaar. Reg Crewe, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid het gereageer op die vrystelling van die jaarlikse nasionale misdaadstatistiek deur die minister van polisie, Nathi Mthethwa in Pretoria.
AfriForum voer ’n verskerpte veldtog om spesialiseenhede daar te stel om plaasaanvalle en plaasmoorde te pak en het verlede week ʼn petisie, “Hoe lank nog?” teen plaasaanvalle bekendgemaak, maar die Minister draai telkemale ’n dowe oor.

Volgens Minister Mthethwa, is 609 verdagtes tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir seksuele misdrywe. Die Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings het gesorg vir 499 van dié skuldigbevindings. Seksuele aanranding het met 6.2 % gedaal.

Crewe sê die Minister spog met die suksesse van spesialiseenhede, maar dat dit tyd is dat hy self luister na wat hy sê en dit regoor die spektrum toepas.

Rooftogte, wat die afgelope nege jaar met 296.2 % gestyg het, het slegs 0.6 % gedaal. Moord het met 0.6 % gestyg in die 2012/2013 finansiële jaar.

“Dit beteken dat alle huidige strategieë nie werk om rooftogte en moord die nekslag toe te dien nie, en Minister Mthethwa sal moet ingryp waar Suid-Afrikaners vir ingryping vra,” het Crewe gesê.

Suid-Afrikaners wat AfriForum wil bystaan om met gemeenskapsveiligheidsnetwerke veiligheid in dorpe te verbeter, kan die naam van hul dorp SMS na 31336. (’n SMS kos 50c).

Similar Posts