|

Leë kosrakke by Boeremark gryp besoekers aan die hart – AfriForum

Besoekers aan die Boeremark in Pretoria was Saterdagoggend aan die hart gegryp met die uitbeelding van ’n leë kosstalletjie ter bewusmaking van plaasmoorde in die land en die Treurgrond-film wat in Mei hierop gaan fokus.

Bea Pretorius, bemarkingshoof van AfriForum, het gesê uit die reaksie van omstanders was dit duidelik dat plaasmoorde en gepaardgaande probleme soos die bedreiging van voedselsekerheid ’n kwessie is wat baie Suid-Afrikaners na aan die hart lê.

Pretorius het gesê die veldtog is daarop gemik om die Treurgrond-film te bemark, maar ook om mense bewus te maak dat die uitwissing van boere wat produktief kos voorsien uiteindelik tot hongersnood in die land sal lei.

Die foto wat van die stalletjie sonder enige kosprodukte het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Dit is binne enkele dae deur meer as ’n halfmiljoen mense gesien.

André Frauenstein, vervaardiger van die film, het gesê film is ’n nuwe medium om die tragedie van plaasmoorde uit te beeld sowel as die impak wat dit op gemeenskappe en families het.

“Ons hoop dat dit mense se oë sal oopmaak vir wat in die land aangaan en ’n einde aan die moorde sal bring.”

AfriForum en TLU SA het bygedra tot die vervaardiging van die film. Die twee organisasies het ook in Januarie 2015 skokstatistieke vir plaasaanvalle en –moorde bekend gemaak.

Luidens die statistieke was daar verlede jaar 277 plaasaanvalle en 67 plaasmoorde. Sedert die begin van die jaar was daar reeds nege moorde.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê as dit enigsins ’n aanduiding is van die tempo van moorde en aanvalle op boere, skets dit ’n uiters donker prentjie vir die res van die jaar.

Volgens Kriel versterk die film AfriForum se veldtogte teen plaasmoorde en sal dit bewustheid onder die publiek verhoog sodat dit as prioriteitsmisdaad verklaar kan word.

Verskeie bekende akteurs is in Treurgrond te sien onder andere Steve Hofmeyr, Erica Wessels, Jana Strydom, Shaleen Surtie-Richards, Andre Frauenstein, Barbara-Marie Immelman, Boikie Pholo, Richard Lukunku, Graeme Kriega, Deon Coetzee en Richard van der Westhuizen.

Similar Posts