|

AfriForum gee sy regspan opdrag om polisie-inligting oor plaasmoorde te eis

AfriForum het vandag aan sy regspan opdrag gegee om opsies te oorweeg om die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, te dwing om meer inligting oor plaasmoorde aan die organisasie beskikbaar te stel. Dit volg nadat die kommissaris beweer het dat plaasmoorde oor die afgelope vyf jaar afgeneem het, terwyl AfriForum en TLU SA se data duidelik aantoon dat die syfers wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bekend gemaak het, onvolledig is.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat daar volgens AfriForum en TLU SA se rekords in die afgelope vyf jaar ten minste 316 plaasmoorde waarvan die inligting geverifieer kon word, gepleeg is. Phiyega beweer egter dat daar volgens die SAPD in dieselfde tydperk slegs 271 plaasmoorde was.

“Of die polisiekommissaris doelbewus met oëverblindery besig is en of die SAPD uit blote nalatigheid nie in staat is om betroubare syfers oor plaasmoorde bekend te stel nie is nog onseker. Juis daarom is dit nodig om agter die kap van die byl te kom.”

AfriForum sal spesifiek die name aanvra van al die boere wat volgens die polisie in die afgelope vyf jaar vermoor is om vas te stel watter plaasmoorde nie deur die polisie aangeteken is nie. Die kommissaris sal ook gevra word om die polisie se metodiek rondom die insameling van statistiek oor plaasmoorde bekend te maak.

Similar Posts