|

AfriForum tree op ná wrede plaasmoord in die Oos-Kaap

Die gemeenskap van Barkly-Oos in die Oos-Kaap het AfriForum genader om in te gryp nadat ’n bejaarde egpaar vanoggend wreed op hulle plaas in die distrik vermoor is. AfriForum het opnuut ’n beroep op die minister van polisie, Nathi Mthethwa, gedoen om plaasmoorde te laat prioritiseer, maar ook aangedui dat die organisasie self inisiatief sal neem deur plaaslike veiligheidstrukture ook in die Oos-Kaap te vestig.

Die gemeenskap van Barkly-Oos is geskok nadat Frans Dawid de Villiers en sy vrou, Ralie de Villiers, vanoggend ongeveer 04:00 vermoor is. Die egpaar se seun, Dawie, is ook tydens die aanval met ’n mes gesteek en veg tans vir sy lewe in die hospitaal.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum het bygevoeg dat die organisasie in November vanjaar ’n voorlegging oor die realiteit van plaasmoorde in Suid-Afrika by die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Geneve sal voorlê. Die publiek word aangemoedig om die petisie, wat hierdie voorlegging sal vergesel te ondersteun deur www.hoelanknog.co.za te besoek.

“Hoe lank moet ons nog vir die regering se ingryping vra? Mthethwa se gebrek aan optrede grens aan aandadigheid.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum het bygevoeg dat gemeenskappe nie net op regeringsingryping moet wag nie, maar ook pro-aktief moet optree.

“Daarom is AfriForum besig om plaaslike gemeenskapsveiligheidsnetwerke regoor die land te stig. Ons sal die gemeenskap van Barkley-Oos ook in die komende weke besoek en bystand bied.”

Similar Posts