|

AfriForum neem deel aan internasionale staptog teen plaasmoorde

AfriForum het ʼn suksesvolle internasionale staptog saam met die gemeenskap, vriende en familie van die vermoorde Christine Robinson in Thabazimbi in Limpopo gehou. Die staptog is gelyktydig in Thabazimbi, Londen (Engeland), Liverpool (Engeland) asook in Vancouver in Kanada gehou ter nagedagtenis aan mev. Robinson en ook om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om plaasmoorde in die land te prioritiseer. Mev. Robinson is op 30 Julie 2014 verkrag en vermoor op ʼn plaas net buite Thabazimbi. Lees hier “Familielede het vandag in samewerking met AfriForum ook 430 briewe aan die eerste minister van Engeland, David Cameron, by 10 Downingstraat in Londen oorhandig. In Suid-Afrika het AfriForum ʼn memorandum aan die polisie oorhandig waarin die burgerregte-organisasie die prioritisering van plaasmoorde versoek,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê. Cameron het verder gesê dat daar by elke staptog ʼn memorandum saam met ʼn ope brief van familie én vriende voorgelees is. Daar is ook ’n oomblik van stilte gehou waarna ballonne vrygelaat is om mev. Robinson en ander slagoffers van plaasmoorde se lewens te herdenk. AfriForum het in die afgelope week ʼn klag by die Britse Hoë Kommissariaat in Pretoria ingedien om vir politieke en diplomatieke druk op die Suid-Afrikaanse regering te vra. “Volgens AfriForum se statistieke, wat konserwatief bereken is, was daar al minstens 90 bevestigde plaasaanvalle in 2014, en sedert die aanstelling van die nuwe minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, was daar al sowat 20 moorde op boere,” het Cameron gesê.

Similar Posts