|

AfriForum eis dat president Zuma slagoffers van plaasaanvalle toespreek

AfriForum het vandag ʼn beroep op president Jacob Zuma gedoen om in gesprek te tree met slagoffers van plaasaanvalle.

Die burgerregte-organisasie het ook sy kommer uitgespreek oor die feit dat die president klaarblyklik maklik tyd in sy dagboek kan inruim om aktief deel te neem aan ʼn bewusmakingsveldtog teen renosterstropery in die Nasionale Krugerwildtuin en omliggende gebiede, maar ten spyte van verskeie wekroepe deur die publiek, nie bereid is om die slagoffers van plaasaanvalle toe te spreek nie. Die president het gister op Bewusmakingsdag teen Renosterstropery ʼn toespraak in die Skukuza-sokkerstadion aan nagenoeg 5 000 inwoners van Nkomazi en Bosbokrand gelewer.

“Dit lyk vir ons of die regering geen begrip het vir die pyn, lyding en emosionele trauma wat hierdie slagoffers deurgaan nie. Dit lyk ook nie of die regering ernstig is oor werkskepping en voedselsekerheid nie, aangesien boere, wat werkskeppers én voedselprodusente is, in buitengewoon hoë proporsies vermoor word, maar nie juis enige reaksie vanaf die regering kry nie,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Roets het bygevoeg dat AfriForum verheug is dat die regering ingryp om renosterstropery hok te slaan en dat die president tyd inruim om by hierdie stryd betrokke te raak.

“Daar is egter geen logiese rede waarom die regering plaasmoorde kan ignoreer terwyl spesiale maatreëls getref word om renosterstropery te prioritiseer nie.”

AfriForum het November 2015 as ʼn nasionale maand van protes teen plaasmoorde verklaar.

AfriForum doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om hul name by die organisasie se protesbrief te voeg. In aanloop tot die VN-konferensie, wat in die laaste week van November 2015 in Genève, Switzerland, plaasvind, sal AfriForum ’n omvattende veldtog van stapel stuur om steun vir ʼn memorandum te werf wat aan die VN oorhandig sal word.

  • AfriForum wil sy verslag aan die VN versterk met minstens 100 000 name van Suid-Afrikaners wat die saak steun. Om hul steun te wys, kan die publiek die webtuiste www.stopdiemoorde.co.za besoek of hul naam na 32534 SMS teen R1.
  • AfriForum sal ook binnekort ʼn eenheid op die been bring wat op die slagoffers van plaasaanvalle en -moorde sal fokus.

Similar Posts