|

Plaasmoorde word prioritiseer

Tydens ʼn gesamentlike mediakonferensie vandag tussen AfriForum en die waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane, is aangekondig dat plaasmoorde amptelik geprioritiseer sal word.

Dié konferensie volg op ʼn gesamentlike werkswinkel tussen AfriForum en Phahlane. Verskeie stappe sal gedoen word wat op ʼn gefokusde teenstrategie teen plaasmoorde neerkom. Die plan behels in besonder dat daar groter samewerking tussen die polisie en plaaslike gemeenskappe sal wees.

Hierdie gesprek het op aanvraag van AfriForum plaasgevind nadat Phahlane vroeër vanjaar in die media gesê het dat plaasmoorde groter prioriteit moet geniet.

“Ons kommer was dat hierdie bloot ʼn opmerking in die verbygaan was en nie noodwendig tot daadwerklike aksie sou lei nie,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Tydens die gesprek het AfriForum ʼn voorlegging oor plaasmoorde, die impak daarvan en die redes waarom dit prioritiseer moet word aan die polisie gelewer. Dit is gevolg deur ʼn voorlegging van die kommissaris oor stappe wat die polisie van voorneme is om toe te pas om plaasmoorde hok te slaan.

“Ons is oortuig daarvan dat indien hierdie stappe wel toegepas word, dit ʼn daadwerklike impak sal maak en dat ons ʼn afname in plaasmoorde kan verwag.”

AfriForum dryf sedert 2012 reeds ʼn veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde en is van mening dat hoewel die probleem nog nie ten volle opgelos is nie, die organisasie dit as ’n reuse sprong in die regte rigting beskou.

“AfriForum sal voortgaan om met die polisie saam te werk om te verseker dat hierdie plan op grondvlak deurgevoer word,” het Roets gesê.

Similar Posts