|

MRK moet raadslid se gewraakte uitlatings teen wittes ondersoek

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) behoort die rassistiese uitlatings te ondersoek wat ’n ANC-raadslid van die Govan Mbeki Munisipaliteit in Mpumalanga glo gemaak het.
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, meen daar hoef nie eers ’n klag teen Kenny Barrel Nkosi ingedien te word, alvorens die MRK dit ondersoek nie.
Luidens mediaberigte het Nkosi glo op sosiale media gesê die wittes is die eerste mense wat moet f…off. Hy het gesê die “Kubane het ons nooit onderdruk nie en is ons ware vriende in tye van nood”.

Dié uitlating is glo gemaak kort ná die besoek van die sogenaamde 5 Kubaanse helde wat die land van 21 Junie tot 3 Julie besoek het.
Gerardo Hernandez, Ramon Labanino, Antonio Guerrero, Fernando Gonzalez en Rene Gonzalez is in September 1998 in Miami, Florida, gearresteer op aanklagte van spioenasie en dat hulle saamgesweer het om teen die Amerikaanse regering op te tree. Hulle is later vrygelaat en tot helde in Kuba verklaar. Die ANC-regering het hulle onlangs ’n spesiale verwelkoming gegee, terwyl hulle ook besoeke aan Gauteng, die Wes-Kaap, Limpopo, KwaZulu-Natal en die Vrystaat gebring het.

Isaac Mangena, woordvoerder van die MRK, het by navraag gesê die kommissie het nie enige klagtes oor Nkosi se uitlatings gekry nie en maar self in die media daarvan kennis geneem.
“Ons moedig mense aan om die kommissie te nader wanneer daar enige vermoedens is dat die regte van ander mense geskend word. Die kommissie het nog altyd gewaarsku dat nie net openbare figure nie, maar ook inwoners van die land, daarteen moet waak om enige aanstootlike taal te gebruik wat as sodanig deur ander rasse, godsdiensgroepe en dies meer ervaar kan word.

“Ons moet die geskiedenis van waar ons as ’n nasie kom erken asook die feit dat ons nou in ’n diverse en veelrassige samelewing leef,” het Mangena gesê.

Luidens mediaberigte sou die munisipaliteit waar Nkosi ’n raadslid ’n ondersoek oor sy rassistiese opmerking doen. Volgens die munisipaliteit was die opmerking egter Nkosi se eie opinie en is dit in sy persoonlike hoedanigheid gemaak.

AfriForum en AfriForum Jeug het reeds by verskeie geleenthede klagtes teen groepe en individue ingedien wat hulle aan rassistiese uitsprake en haatspraak skuldig maak.
Vroeër vanjaar het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, strafregtelike klagtes ingedien teen ses individue wat mense deur middel van sosiale media aangehits het om plaasmoorde te pleeg of wit mense uit te moor.

Roets het gesê sulke uitlatings word in ’n baie ernstige lig beskou en mense moet besef dat kommentaar op sosiale media-platforms nie vrywaring van vervolging bied nie.
Benewens die veroordeling van rassistiese opmerkings wat van tyd tot tyd deur studente op universiteitskampusse gemaak word, het die burgerregte-organisasie ook verlede jaar ’n haatspraak-klag teen die rap-groep Dookoom ingedien.

In dié klag wat by die MRK ingedien is, is gevra dat die groep se lied “Larney, jou p#*s” sowel as die musiekvideo wat vir dié lied vervaardig is tot haatspraak verklaar word. “Die lied bevat ’n reeks uiters rassistiese en neerhalende opmerkings teenoor witmense oor die algemeen. Ons het talle boodskappe ontvang van mense wat erg deur hierdie lied gekrenk voel,” het Roets gesê.

Sien video “Haatspraak ruk hand uit” wat vroeër deur AfriForum geplaas is.

Similar Posts