|

AfriForum op pad na Perth, Australië om bewusmaking te skep oor plaasaanvalle in Suid-Afrika

Die burgerregte-organisasie AfriForum is ʼn geleentheid gegun om die wêreld oor die wreedaardige misdade wat teen boere in Suid-Afrika gepleeg word, in te lig. Die uitnodiging om ʼn voorlegging te lewer by die 15de Internasionale Simposium van die Wêreldgenootskap van Slagofferkunde sal ʼn platform skep om akademici en leiers op die gebied van slagofferkunde en menseregte-kampvegters op hoogte te bring van hierdie uiters unieke misdaadfenomeen in Suid-Afrika.

Die stad Perth in Wes-Australië is die gasheer van die konferensie wat van 5 – 9 Julie 2015 plaasvind. Die tema van die konferensie is Viktimisering, geregtigheid en genesing: Die Uitdaging van Regsinnighede. Volgens die simposium-webtuiste:

Die tema is ontwikkel om fokus te lewer oor die deel van beste praktyk, opkomende reaksies, en kritiese oordenking oor kontemporêre konseptualisasies van viktimisering en geregtigheid in verskeie omgewings en dissiplines – van die wêreld van “gewone” misdaad, tot postkoloniale en post-konflik omgewings, en tot transnasionale, kuber- en institusionele omgewings.

Die konferensie skep ʼn platform vir akademici, slagofferdienspraktisyns, die regbank, polisiëring, navorsers en nieregeringsorganisasies en beleidmakers van regoor die wêreld om navorsingsbevindinge oor ʼn verskeidenheid van onderwerpe rakende – en misdade gepleeg teen – slagoffers – voor te lê en te deel.

Oor die afgelope 20 jaar is ten minste 1 747 “plaasmoorde” in Suid-Afrika gepleeg. Talle van hierdie moorde het verkragting en marteling ingesluit. Die verhouding waarteen Suid-Afrikaanse boere vermoor word, is bereken om 132,8 per 100 000 per jaar te wees. Die gemiddelde jaarlikse moordsyfer elders ter wêreld is nagenoeg 7 per 100 000 en die algemene moordverhouding in Suid-Afrika is 32 per 100 000.

Lorraine Claasen, navorser by AfriForum en deskundige op die gebied van plaasaanvalle, het vir meer as ʼn jaar omvattende veldnavorsing oor plaasaanvalle gedoen. Meer as 50 gevallestudies is as deel van hierdie navorsing ontleed, wat uitgebreide onderhoude met oorlewendes van sulke aanvalle, naasbestaandes van vermoorde slagoffers en plaaswerkers insluit. Verskeie deskundiges was ook betrokke. Claasen sal die voorlegging namens AfriForum doen.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en woordvoerder vir die organisasie se veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde by die Suid-Afrikaanse regering, sal Claasen na die konferensie vergesel.

“Dit is ʼn eer en ʼn voorreg vir AfriForum om ʼn geleentheid by só ʼn gerespekteerde gebeurtenis gegun te word om ʼn voorlegging te doen rakende die slagoffers van plaasaanvalle. Ons sal hierdie geleentheid gebruik om aan lede van die gehoor van lande regoor die wêreld met ʼn opsomming van plaasaanvalle in Suid-Afrika en die impak wat hierdie misdaad op sy slagoffers kan hê, te voorsien,” het Claasen gesê.

Claasen is geskeduleer om haar voorlegging op 7 Julie te doen.

“Ons hoop om betekenisvolle internasionale bewusmaking rakende plaasaanvalle te bereik en dat die wêreld notisie sal neem met betrekking tot die wreedaardighede wat teen hierdie Suid-Afrikaners gepleeg word. Dit is noodsaaklik om die boodskap aan die buitewêreld te stuur dat daar sedert 1990, 3 542 plaasaanvalle aangeteken is en dat 1 747 moorde gepleeg is gedurende hierdie aanvalle. Die felheid van die probleem kan nie langer ongesiens verbygaan nie,” het Claasen bygevoeg.

Vir meer inligting oor die konferensie, besoek gerus die webtuiste by https://www.eiseverywhere.com/ehome/victimology2015/home/?&.

• Beide Roets en Claasen sal vir onderhoude beskikbaar wees gedurende die konferensie. Lede van die Suid-Afrikaanse media word vriendelik daaraan herinner om die verskil in tydsones in gedagte te neem.

Similar Posts