|

Drie plaasmoorde op een dag

Twee plaasaanvalle waartydens drie moorde gepleeg is het vandag in Theunissen en Bainsvlei in die Vrystaat plaasgevind. Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag opnuut ’n beroep op die president gedoen om in te gryp om die plaasmoordkrisis in Suid-Afrika tot nasionale prioriteit te verhef.

“Dit beteken dat daar nou al sewe plaasmoorde sedert die begin van die jaar gepleeg is,” het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. “Dit is meer as een plaasmoord elke twee dae. As hierdie tendens ’n aanduiding vir die tempo van plaasmoorde in 2015 gaan wees, beteken dit dat daar in hierdie jaar meer as 200 plaasmoorde sal wees.”

“Die hartseer is dat die president die afgelope naweek twee keer ’n beroep op boere gedoen het om die lewenstoestande van plaaswerkers te verbeter. Terselfdertyd word geen woord gerep oor die duisende boere wat in die afgelope jare vermoor is nie,” het Roets bygevoeg.

Besonderhede oor die plaasmoorde wat sedert die begin van die jaar gepleeg is, is soos volg:

Datum Plek Besonderhede
1 Januarie Sasolburg, Vrystaat Boer in bolyf geskiet toe hy ondersoek ingestel het nadat indringers vermoed is.
5 Januarie Estcourt, KwaZulu-Natal Boer in die maag geskiet. Bakkie, selfoon en skootrekenaar is gesteel.
5 Januarie Lephalale, Limpopo Plaasvrou gevind met draad om haar nek, verwurg. Twee selfone en bakkie is gesteel.
8 Januarie Muldersdrift, Gauteng Boer en sy vrou aan mekaar vasgebind. Man is met ’n baksteen en ’n graaf aangerand totdat hy aan sy beserings beswyk het. Sy vrou het oorleef.
12 Januarie Theunissen, Vrystaat Plaashuis aan die brand gesteek, met vrou se liggaam daarbinne. Hilux bakkie en vuurwapen gesteel.
12 Januarie Bainsvlei, Vrystaat Egpaar op plaas vermoor.

– AfriForum en die landbou-unie TLU SA sal eerskomende Donderdag, op 15 Januarie, ’n gesamentlike mediakonferensie in Centurion aanbied, waartydens die statistieke oor plaasaanvalle en –moorde wat in 2014 gepleeg is, bekendgestel sal word. Hierdie aanvalle sal onder meer op ’n landkaart aangestip word en die mees kwesbare areas sal uitgelig word. ’n Aksieplan sal ook by die geleentheid bekendgemaak word.

Similar Posts