|

Boer pleit vergeefs dat aanvallers hom nie skiet

AfriForum wil minister van landbou ontmoet

’n Boer van Leslie in Mpumalanga is in ’n bedenklike toestand in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria nadat hy vergeefs by sy aanvallers gepleit het om hom nie te skiet nie.
Mnr. Chris van Deventer (62) is verlede Woensdagoggend deur sy motorvenster geskiet nadat hy twee booswigte agterna gesit het wat by hom en sy vrou, Elize, se huis ingebreek en goedere gesteel het.

Van Deventer en sy vrou was buite die werf by die varkhokke doenig toe die krag in die huis afgegaan het. Sy het huis toe geloop om dit weer aan te skakel waar sy gesien het hul selfone is weg en die huis omgekrap.
Volgens me. Rilda Bezuidenhout, Van Deventer se dogter, het werkers op die plaas glo die inbrekers sien weghardloop en haar ouers daaroor ingelig. Die egpaar het die boewe toe in hul motor agterna gesit waarna daar toe op hulle begin skiet is.

Volgens Bezuidenhout het die aanvaller verskeie skote op haar ouers geskiet en ondanks haar pa se pleidooie dat hulle hom nie moet skiet nie, het hulle hom deur die motorvenster geskiet.
Dié wapen behoort aan Van Deventer en die aanvallers het dit vermoedelik saam met ander goedere uit die huis gesteel.
Bezuidenhout het gesê haar pa moes ure op behandeling wag. Hy kon nie op Leslie gehelp word nie en is met ’n ambulans van Evander na die Witbank-hospitaal geneem waar daar ook nie voldoende toerusting was om hom te help nie. Hy is toe daarna per ambulans na Steve Biko geneem.

“My pa is nog nie wakker nie en aan masjiene gekoppel. Die dokters kon nog nie opereer nie omdat die koeël te naby aan sy niere is en daar ook probleme met sy hart en bloeddruk is. Dit is vir my bitter swaar om hom so te sien.”
Volgens Bezuidenhout het haar ouers sowat drie maande gelede na die plaas getrek wat sowat 40 km vanaf Witbank is. “My pa is baie lief vir die natuur en dit is waar hy graag wou wees.”

Bezuidenhout het gesê die polisie het bevestig dat twee verdagtes gearresteer is.
Die aanval op die Van Deventers is een van sewe voorvalle sedert die begin van die maand waarvan AfriForum bewus is. Dr. Louis-John Botha (64) is wreed op sy plaas by Swartwater in Limpopo vermoor. Hy is vermoedelik aan veelvuldige kopbeserings dood. Vier Zimbabwiërs is aangekeer en het vandeesweek in die Mokopane-landdroshof verskyn.
Lorraine Claasen, kriminoloog en navorser by AfriForum, wat met ’n omvattende studie oor plaasmoorde en –aanvalle besig is, het gesê daar was sedert die begin van die jaar altesame 38 aanvalle regoor die land waartydens boere en werkers erg aangerand of vermoor is.

In Januarie was daar 20 aanvalle waartydens agt mense vermoor is. In Februarie was daar elf bevestigde aanvalle en drie moorde.

’n Ontmoeting tussen ’n afvaardiging van AfriForum en mnr. Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en vissery, word vir later vandeesmaand in Kaapstad gereël waartydens plaasmoorde en –aanvalle en landelike veiligheid bespreek sal word.

Similar Posts