|

AfriForum na VN in Genève oor geweld teen minderhede

AfriForum gaan Dinsdag en Woensdag (25 en 26 November 2014) die sewende sitting van die Menseregteraad van Verenigde Nasies (VN) se Forum oor Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland, bywoon om insette rakende die stand van minderheidsregte in Suid-Afrika te lewer. Dit sal die vyfde keer wees wat AfriForum die sitting van hierdie forum bywoon.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, handel vanjaar se byeenkoms oor die voorkoming en hantering van geweld en wreedhede gerig teen minderhede. Sy sal by die geleentheid ʼn verslag indien wat fokus op die gebrek aan beskerming van minderhede in Suid-Afrika. Sy sal spesifiek ook die krisisafmetings wat aanvalle en moorde op lede van minderheidsgemeenskappe op Suid-Afrikaanse plase aanneem, uitwys. Nog ʼn knelpunt wat aandag sal geniet, is die gebrek aan respek vir die taalregte van onder andere Afrikaanssprekendes, wat slagoffers van misdaad van hulle regte ontneem.

AfriForum se omvattende verslag oor plaasmoorde wat vroeër vanjaar aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oorhandig is, sal in aansluiting aan die VN se Menseregteraad oorhandig word.

Die Forum oor Minderheidsaangeleenthede se fokus is nie die indien van klagtes nie, maar die vind van oplossings. Vanuit ons Suid-Afrikaanse ervaring, stel AfriForum voor dat minderhede beskerm en hulle regte bevorder kan word deur:

• die burgerlike gemeenskap toe te laat om betrokke te wees by die voorkoming van magsvergrype teen minderhede en die bevordering van hulle regte;
• die vryheid en onafhanklikheid van die media en regbank te verseker;
• instellings soos die Suid-Afrikaanse Artikel 9 instellings* te skep, maar verder te verseker dat hulle vry van inmenging (byvoorbeeld deur kaderontplooiing) en intimidasie deur owerhede, politieke partye en ander belangegroepe funksioneer. Hulle moet oor afdwingingsmagte en voldoende befondsing beskik. Finansiële bestuur moet deurgaans gekontroleer word en wanadministrasie moet vinnig en ferm hanteer word;
• internasionale druk uit te oefen waar dié maatreëls nie in plek is nie.

Volgens Bailey is AfriForum se teenwoordigheid by die byeenkoms deel van die omvattende strategie waarmee AfriForum toenemend die skending van mense- en minderheidsregte in Suid-Afrika internasionaliseer.

Similar Posts