|

Assesseringsgids vir plaasveiligheid vandag bekendgestel

Plaasmoorde en plaasaanvalle is ’n tergende krisis en vraagstuk waarmee derduisende Suid-Afrikaners daagliks worstel.

In plaas daarvan om net beskuldigings voor die ANC-regering of politici se deur te lê of die ekonomie of armoede die skuld te gee, het AfriForum se veiligheidseenheid tot die besef gekom dat mense in landelike gebiede se kwesbaarheid die wortel van die probleem is. “Mense is weerloos, verafgeleë, vuisvoos, sagte teikens en nie op hul eie veiligheid ingestel nie,” sê Ian Cameron, hoof van veiligheid by AfriForum.

Vanjaar alleen was daar al meer as 110 aanvalle waarin minstens 96 mense vermoor is.

Cameron sê kwesbaarheid is die direkte gevolg van mense wat hulself nie kan of wil beveilig nie. En om plaasmoorde en –aanvalle af te bring, sal mense pro-aktief móét optree om hulself te beveilig.

Dit is met dié doel voor oë dat die burgerregte-organisasie vandag die eerste weergawe van ’n assesseringsgids vir plaasveiligheid bekendgestel het. Dit dien as hulpmiddel om mense te help om hul eiendom en hulself te beveilig. Daar is altesame 90 vrae wat beantwoord moet word.

“Hierdie praktiese assessering gee vir die landelike gemeenskap ’n instrument om te meet hoe veilig hulle is en natuurlik wat hulle kan doen om veiliger te wees. Dit beteken nie dat iemand risiko-vry is as aan die assessering voldoen word nie. Maar die maatreëls en aanbevelings kan beslis help om verdere aanvalle te voorkom,” sê Cameron.

Van die assesseringsvrae is:

  1. Is daar doeltreffende kommunikasie met omliggende boere en die plaaswag?
  2. Is daar ’n noodplan in tye van nood?
  3. Is daar omheinings wat hoog genoeg, sowat 2 m, is?
  4. Is daar ’n doeltreffende alarmstelsel?
  5. Kan die inwoners reg rondom die huis ry voordat hulle ingaan?
  6. Is werknemers betroubaar?
  7. Word slegs plaaslike en gedokumenteerde werknemers aangestel?
  8. Word deure te alle tye gesluit?
  9. Is daar ’n veilige vertrek in die huis waar ’n gesin kan wegkruip ten tyde van ’n aanval?
  10. Is daar voldoende selfoonopvangs?
  11. Word die radionetwerk 24 uur gemonitor?
  12. Is daar ’n werkende WhatsApp-groep tussen boere?
  13. Is ondergroei van bome en struike skoongesny?
  14. Word heinings en drade gereeld geïnspekteer om vas te stel of dit geknip word?
  15. Is daar ’n noodhulpsak in die huis beskikbaar?

Die gids fokus onder meer ook daarop dat mense hul houding en gesindheid ten opsigte van hul eie veiligheid moet verander. “Ons moet die uitdaging van selfbeveiliging aanvaar en dit in ons gemeenskappe toepas en nou met ander strukture soos buurtwagte, gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) en privaat sekuriteitsmaatskappye saamwerk,” meen Cameron.

AfriForum het vroeër ook 35 veiligheidswenke beskikbaar gestel aan lede van die landbou-, landelike en stedelike gemeenskappe. (Lees die artikel hieronder).

35 Wenke om veilig op jou plaas te wees

Die volledige assesseringsgids kan bekom word deur ’n versoek te stuur na veiligheid@afriforum.co.za

Similar Posts