|

Gru-moorde kan toegeskryf word aan regering se stilswye – AfriForum

AfriForum het hom sterk uitgespreek oor gister se gru-moorde op ʼn bejaarde Duitse egpaar en hul seun in Richmond, KwaZulu-Natal. Dié burgerregte-organisasie sê die regering se stilswye oor plaasmoorde dra by tot aanvalle op boere, omdat die regering geen veiligheidsbystand aan boere lewer nie.

ʼn Boer (76), sy vrou (65) en seun (33) se liggame is Sondag, 2 Maart op hulle plaas in Richmond gekry nadat hulle wreedaardig deur aanvallers aangerand, gemartel en uiteindelik vermoor is. AfriForum meen dat hierdie moorde moontlik voorkom kon gewees het as die regering die veiligheid van boere in die land as prioriteit geag het.

“Ons is geskok deur die moorde. Dis onmenslik wreed en steeds bly die regering stil. Dit maak die regering indirek aandadig,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

AfriForum skakel tans met die kantoor van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in KwaZulu-Natal om met die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Ngobeni in gesprek te tree oor die vlaag plaasaanvalle die afgelope tien dae.

“Ons is bewus van sowat 5 aanvalle binne 11 dae. Ons bied nou ons hulp aan die gemeenskappe in sentraal-KwaZulu-Natal om veiligheidstrukture daar op die been te bring, sodat boere vir hulle eie veiligheid kan sorg,” het Chris Fourie, AfriForum se gemeenskapskoördineerder in KwaZulu-Natal, gesê.

AfriForum gaan vandeesweek briewe aan verskeie lande se ambassades stuur om hulle te versoek om hul mense te waarsku teen die geweld in landelike gebiede in Suid-Afrika.

Similar Posts