|

Nasionale Polisiekommissaris sê probleem met plaasmoorde is publiek se emosies

Die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega is totaal uit voeling met die werklikhede wat op Suid-Afrikaanse plase heers. Dít is AfriForum se standpunt, nadat genl. Phiyega vandag aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gesê het dat mense se persepsies oor plaasmoorde bestuur moet word.

In antwoord op navrae deur die SAMRK het genl. Phiyega gesê dat die ware probleem nie die moorde op plase is nie, maar eerder mense se persepsies daaroor. Genl. Phiyega het verduidelik dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ’n program regoor die land van stapel wil stuur om die publiek se emosies oor plaasmoorde te bestuur.

“Ons moet vasstel wat mense se emosies oor plaasmoorde aanvuur. Is dit dít wat hulle in die koerante lees of dat hulle werklik nie veilig voel nie?” het genl. Phiyega, onder meer, gesê.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het sy kommer uitgespreek oor die feit dat die polisie uitgebreide terugvoer gegee het oor die inhoud van die polisie se landelike veiligheidsplan, maar nie kon aandui tot watter mate die plan toegepas word nie.

“Genl. Phiyega het gesê dat plaasmoorde nou minder as voorheen is, en sy het daarop gesinspeel dat dit gevolglik nie so erg is as wat mense dink nie,” het Roets gesê.

Roets het genl. Phiyega se argument as onbenullig bestempel.

“Die feit dat misdaad van ’n buitengewone hoë voorkoms na ’n ietwat laer ekstreem afgeneem het, beteken nie dat dit opgelos is nie. AfriForum se ervaring is dat die wreedheid van plaasmoorde toeneem, maar genl. Phiyega het geen melding gemaak van die brutaliteit van plaasmoorde nie.”

Similar Posts