|

Britse vrou vermoor op Thabazimbi-plaas – AfriForum

Christine Robinson, ’n Britse vrou in haar vyftigs, is vandag wreed op haar plaas, sowat 15 km buite Thabazimbi, doodgeslaan. Die polisie is besig met ’n ondersoek en na gerugte word twee plaaswerkers vermis, wat moontlik met die saak verband kan hou. AfriForum doen opnuut ʼn beroep op die regering om dringend in te gryp en plaasmoorde te prioritiseer.

“Nog ʼn wrede moord in Suid-Afrika. Die regering se stadige optrede om misdaad te prioritiseer verwring die beeld wat van ons land na die res van die wêreld uitgestraal word,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, het in die afgelope maand aangekondig dat die polisie dringend na plaasaanvalle gaan kyk.

“Ons kan nie meer wag vir die regering nie en hoewel ons mnr. Nhleko se uitspraak verwelkom, beteken woorde niks sonder dade nie. Hulle vat te lank,” het Cameron gesê.

Daar was in die afgelope 24 uur drie plaasaanvalle in die land:

  • Chrissiesmeer, Mpumalanga: Drie vrouens en ʼn baba is aangeval en geroof. Die vrou het die rower met ’n panga gewond.
  • Camperdown, KwaZulu-Natal: ʼn Boer is met ’n pistool oor die kop geslaan en beroof.
  • Thabazimbi, Limpopo: Me. Robinson is op haar plaas buite Thabazimbi vermoor.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het vroeër vandeesmaand, na aanleiding van ʼn formele versoek deur AfriForum, bevestig dat hulle ʼn openbare verhoor oor plaasmoorde in Suid-Afrika sal hou. Volgens AfriForum is die enigste volhoubare oplossing samewerking tussen die burgerlike samelewing en die polisie.

Similar Posts