|

Stop die moorde-veldtog

https://www.youtube.com/watch?time_continue=2&v=dBfXLIZshBw

AfriForum en slagoffers gaan plaasmoordpetisie na VN neem

AfriForum en slagoffers wie se geliefdes op plase vermoor is, het ’n petisie vir die prioritisering van plaasmoorde begin, wat in November vanjaar by die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede ingedien sal word. By die geleentheid is ’n verslag, getiteld “Die Mthethwa-dossier” bekendgestel. Die verslag bevat die besonderhede van tien gevalle in die afgelope twee jaar waartydens slagoffers probeer het om die minister van polisie, Nathi Mthethwa, se ingryping by plaasmoorde te kry. Hulle pogings om met hom te kommunikeer, is telkens met minagting begroet. AfriForum het ook ’n video, getiteld “Hoe lank nog?” bekendgestel, waarin ’n aantal van die slagoffers van hulle pogings om met mnr. Mthethwa te kommunikeer, vertel.

Die publiek word aangemoedig om die petisie by hoelanknog.afriforum.co.za te onderteken. AfriForum eis dat plaasmoorde geprioritiseer word omdat dit ’n unieke misdryf is, wat ’n unieke teenstrategie benodig.

Kwadfietsryers voltooi 1000 kilometer reis vir bewusmaking oor plaasmoorde

Vyf slagoffers van plaasaanvalle het van 26 tot 29 September vanjaar 1000 kilometer tussen Johannesburg en KwaZulu-Natal op hulle kwadfietse afgelê vir die bewusmaking oor plaasmoorde. Die groep, bekend as die Frischgewaagd Dirt Riders, het deur vyftig plase gery, waar hulle literatuur en pamflette uitgedeel het ter bewusmaking oor plaasmoorde. Die groep het met hulle aksie ook die minister van polisie, Nathi Mthethwa, versoek om plaasmoorde as misdaad te prioritiseer. Hulle het verder die gemeenskappe waar hulle aangedoen het aangemoedig om AfriForum se petisie vir die prioritisering van plaasmoorde, wat in November vanjaar by die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede ingedien sal word, te onderteken. Een van die lede van die groep is Bernadette Hall, wie se man, David, verlede jaar voor haar oë op hulle plaas, Frischgewaagd, naby Fochville in Noordwes vermoor is. Haar seuns, Bradly en Wesley Hall, is ook lede van die kwadfietsgroep. Hulle het met hulle aankoms in Ballito ʼn wit kruis by Cane Cutters geplant om die simboliek van dié reis te verewig.

AfriForum stuur 10 000 e-posse aan polisieminister oor plaasmoorde

AfriForum het deur middel van die webblad www.hoelanknog.co.za reeds meer as 10 000 e-posse van die publiek vir die minister van polisie, Nathi Mthethwa, gestuur waarin die prioritisering van plaasmoorde gevra word. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat die webblad geskep is om aan die publiek ’n platform te bied om hulle sê te sê en druk op die minister te plaas. “Mthethwa moet besef dat ons nie gaan lê nie. Hoe langer hy die plaasmoordkrisis ignoreer, hoe meer aggressief sal ons ons veldtog voer. Die voorlegging by die Verenigde Nasies is maar net die begin.” Ernst het bygevoeg dat daar ʼn legio redes bestaan waarom plaasmoorde geprioritiseer moet word. “Die vertrekpunt is die feit dat plaasmoorde ’n unieke misdaad is wat ’n unieke teenstrategie regverdig. Boere woon in afgeleë gebiede en die polisie se landelike veiligheidsplan het nog geen impak op die plaasmoordkrisis gemaak nie. Afgesien daarvan is die voorkoms van plaasmoorde buitensporig hoog en is aanvalle op plaasbewoners dikwels onmenslik wreed.”

Similar Posts