|

Stapper teen plaasmoorde inspireer duisende

Duncan Nyawo (37), die onderwyser van Mpumalanga wat 350 km van Nelspruit na die Uniegebou in Pretoria gestap het teen plaasmoorde, het ’n memorandum aan ’n verteenwoordiger van pres. Jacob Zuma se kantoor oorhandig, waarin versoek word dat plaasmoorde geprioritiseer moet word.

Nyawo is vergesel deur Ian Venter, Alex Leitch, Jaco Klopper, Sipho Mnisi en Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, wat op verskillende stadiums langs die pad by hom aangesluit het. Hy het op Vryheidsdag teen plaasmoorde en moorde op polisielede vanaf Nelspruit die pad na Pretoria begin aflê.

Nyawo se durf om teen dié moorde en geweld in die algemeen op te staan, het Suid-Afrikaners vandeesweek aan die hart gegryp nadat hy onder meer vir dr. Duncan Prinsloo, ’n slagoffer van ’n plaasaanval, op sy plaas buite Bronkhorstspruit ontmoet het. Prinsloo se vrou, Letitia, is in 2008 in die aanval doodgeskiet.

Verskeie mense, waaronder Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het Nyawo en sy medestappers by die Uniegebou ingewag.

Past. Jabulani Zwane van die Greater Grace Church, het Nyawo ook kom ondersteun en ’n boodskap van versoening gebring. “Ek is geïnspireer deur wat Duncan gedoen het. Dit is ’n bewys dat eenvoudige mense verandering kan meebring deur klein dinge te doen en klein treë te gee.”

Zwane het gesê deur Nyawo se optrede en dit wat die Here in sy hart geplaas het om te doen, het hy (Zwane) besef God wil nie hê hy moet na ander lande gaan om mense se lewens te verander nie. “Dit is hier in Suid-Afrika nodig. Dis hier waar ons ’n verskil aan mekaar se lewens moet maak. Dis hier waar ons moet besef daar kan nie kante wees nie. Die enigste kant is die menslike kant.”

Nyawo het gesê dis tyd dat daar vrede in Suid-Afrika kom. “Ons moet mekaar respekteer, ongeag ras, kleur en etniese groep. Die gees van medemenslikheid moet terugkom.

“Ons is ’n reënboognasie en kan nie die werk wat Mandela en De Klerk begin het in die niet laat verdwyn nie. Alle Suid-Afrikaners moet saamstaan om hierdie land te maak werk.”

Esmé Ehlers en Antoinette Crous van Pretoria het die stappers met rose verwelkom. “Hierdie is die begin van iets groot. Ons is hier om hulle te ondersteun vir dit waarvoor hulle bereid is om op te staan.”

In die memorandum doen Nyawo ’n beroep op pres. Jacob Zuma om die rol van boere ernstig op te neem. “Hulle gee aan mense werk en voorsien kos aan die land. Plaasmoorde moet soos renosterstroping ’n prioriteit gemaak word.”

In die memorandum is ook verwys na statistieke van AfriForum en TLU SA waarvolgens daar in 2014 altesame 67 boere vermoor is en sedert 1990 meer as 3 000.

Hier is die berig oor Nyawo se ontmoeting met dr. Duncan Prinsloo ‘n slagoffer van ‘n plaasmoord. Dit is op versoek van AfriForum-lede in engels vertaal

Similar Posts